Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Wanbestuur van Govan Mbeki-munisipaliteit bly onvolhoubaar voortstu

Die toenemende verval van die Govan Mbeki-plaaslike munisipaliteit (GMM) maak dit duidelik dat dié munisipaliteit net nóg ʼn sinkende skip onder die ANC-regering is.

Tydens die munisipale openingsrede Vrydag was dit duidelik dat die ANC se enigste oplossing vir die krisis leë beloftes en die verhoging van alreeds buitensporige belastings en tariewe is.

Die uitvoerende burgemeester, mnr. Nhlakanipho Zuma, het herhaaldelik die rassekaart tydens sy openingsrede gespeel en die blaam op die vorige bestel bly plaas.

Dié munisipaliteit (Bethal, Charl Cilliers, Embalenhle, Evander, Kinross, Leandra, Secunda, Trichardt) is tans een van die grootste mislukkings wat dienslewering en munisipale bestuur betref.

Die munisipaliteit kom nie sy wetlike verpligtinge na nie, inwoners ly weens swak dienslewering en daar is nie politieke of administratiewe leierskap nie.

Daar heers onstabiliteit in die munisipaliteit en inwoners word deur ʼn ernstige diensleweringsvakuum geteister. Water- en rioolinfrastruktuur word nie onderhou nie en veroorsaak dat rioolvuil meeste dorpe oorstroom.

Mnr. Zuma se beplanning vir 2030 laat veel te wense oor. Dit is dieselfde beloftes wat sedert 2021 tydens die plaaslike openingsrede gemaak is.

Projekte het nooit van die grond af gekom nie of voldoen eenvoudig nie aan die nodige standaarde nie: dit sluit die gefaalde rioolprojek van R100 miljoen in Embalenhle in.

Mnr. Zuma vereer die vorige burgemeesters van GMM sedert 2000 vir hulle goeie en opbouende werk ten spyte daarvan dat die munisipaliteit in skuld gedompel is, dit sluit die buitensporige Eskom-skuld van R3.5 miljard en Rand Water se R668 miljoen-rekening in.

Die inwoners verdien ʼn munisipaliteit wat sy wetlike verpligtinge nakom en kwaliteit dienslewering aan inwoners bied.

Dit is dus onaanvaarbaar dat die burgemeester op dieselfde trant wil voortgaan, sonder radikale rigtingverandering.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.