fbpx
Vryheidsfront Plus

Waar is polisievoertuie en -beamptes in die Vrystaat?

Terwyl Vrystaters die oorlog teen misdaad verloor weens die ANC se gebrek aan effektiewe polisiëring, wil dit voorkom asof daar ‘n tekort is aan kritieke polisie-hulpbronne in die provinsie.

Mediaberigte dat polisiebeamptes en –voertuie nie beskikbaar was om die afgelope week klagtes te hanteer nie, is kommerwekkend.

In twee voorvalle van diefstal Donderdag en Vrydag was daar nie polisievoertuie om die aangekeerde rowers na die polisiekantoor te vervoer nie. Daar was na berig word ook ‘n tekort aan polisiebeamptes. Die 10111 inbelsentrum het klaers versoek om self die rower na die polisiekantoor te vervoer.

Die VF Plus is bewus van klagtes in dié verband wat reeds by polisie aanhangig gemaak is.

Dit is die funksie van die provinsiale departement van polisie, paaie en vervoer om kwartaalliks ondersoek in te stel na die beskikbaarheid van polisiebeamptes en -voertuie by die provinsie se 110 polisiekantore.

Waar daar ‘n tekort bestaan, het die departement ‘n verantwoordelikheid om dit by die nasionale departement aan te meld. Die nasionale departement het dan ‘n verantwoordelikheid om tekorte aan te vul waar dit bestaan.

Die VF Plus het die Vrystaatse LUR vir polisie, paaie en vervoer, Sam Mashinini, in ‘n vraag in die wetgewer versoek om aan te dui of sy departement behoorlike opnames oor moontlike tekorte aan hulpbronne by polisiekantore gedoen het. Mashinini moet ook aandui of tekorte aan amptenare en voertuie wel met die nasionale departement gedeel is.

Die styging in moorde (10,9%) en kapings (0,4%) in die Vrystaat die afgelope boekjaar wys dat die ANC nie daarin slaag om misdaad in die provinsie effektief kan bekamp nie. Dit kan nie toegelaat word dat polisiekantore boonop misluk om klagtes te hanteer weens kritieke tekorte nie.

Die VF Plus is bekommerd dat die twee voorvalle in Bloemfontein deel van ‘n tendens in die provinsie is waar polisiekantore nie behoorlik dienste kan verrig nie. Landelike en stedelike veiligheid is afhanklik van provinsiale en nasionale departemente wat effektiewe polisiedienste moet verseker.

Dit moet begin by ‘n politieke wil van die LUR wat moet reageer op die uitdagings en behoeftes wat polisie ondervind.

Kontaknommer: 082 490 6663

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.