fbpx
Vryheidsfront Plus

Vrystaatse departement van samewerkende regering versaak munisipaliteite

Hier volg uittreksels uit VF Plus-LPW, Tammy Wessels, se toespraak tydens die begrotingsposdebat van die Vrystaatse departement van samewerkende regering en menslike nedersettings vandag in die Vrystaatse wetgewer.

Die munisipaliteite van die Vrystaat gaan gebuk onder ongekende korrupsie en wanbestuur. Munisipale infrastruktuur verkeer in ‘n toestand van verval omdat daar min tot geen instandhouding en opgradering plaasvind nie.

Dit is die departement van samewerkende regering se plig om toe te sien dat die provinsie se munisipaliteite behoorlik bestuur en ondersteun word. Die departement moet verseker dat inwoners van elke munisipaliteit behoorlike dienslewering ontvang. Dit gebeur egter nie.

Die departement het gedurende die afgelope 12 maande by drie munisipaliteite deur middel van administrasie ingegryp, naamlik Mafube (Frankfort, Villiers, Tweeling, Cornelia), Masilonyana (Theunissen, Winburg, Brandfort, Verkeerdevlei) en Maluti-a-Phofung (Phuthaditjabe. Harrismith, Kestell).

Dit gaan nie beter met hierdie munisipaliteite nadat hulle onder administrasie geplaas is nie. Daar word steeds miljoene aan Eskom en die waterrade geskuld en derdeparty-aftrekkings word in sommige munisipaliteite nie oorbetaal nie. Dit beteken dat werknemers nie kan aftree nie en ook nie van hulle mediese fondse gebruik kan maak nie, want die premies is afgetrek van hulle salarisse, maar nie aan die betrokke fondse oorbetaal nie. Dit is ‘n onwettige praktyk wat plaasvind terwyl die munisipaliteite onder provinsiale administrasie is.

Die departement prioritiseer nie behoorlike finansiële bestuur en kostebesparingsmaatreëls nie.

Distriksmunisipaliteite moet afgeskaf word. Hulle is oorbodig en die uitgawe van sodanige munisipaliteite regverdig nie die funksie daarvan nie. Distriksmunisipaliteite dien in effek geen doel nie en plaas uiteindelik net deur middel van hoë salarisrekeninge meer druk op ‘n reeds besnoeide begroting.

Die departement moet toesien dat munisipaliteite voorwaardelike toekennings behoorlik bestee deur op te tree teen amptenare wat verantwoordelik is vir die vermorsing en wanbestuur van sulke fondse.

Voorwaardelike toekennings vir munisipale infrastruktuur word jaarliks besnoei omdat dit nie bestee word nie as gevolg van ‘n gebrek aan beplanning en die algehele onvermoë van ANC-kaders wat aangestel is in poste waarvoor hulle nie die nodige ondervinding of kennis het nie. Die gevolg is dat die fondse verbeur word, terwyl ons infrastruktuur by die dag agteruitgaan.

Die VF Plus dring daarop aan dat ‘n nuwe LUR so vinnig as moontlik aangestel word, aangesien die departement te belangrik is om leierloos voort te ploeter. Die nuwe LUR sal streng moet optree teen korrupsie en behoorlike gevolge bestuur moet toepas.

Kontaknommers: 082 490 6663

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.