Die 16 Kubaanse dokters wat in die Vrystaat ontplooi is, kos die belastingbetaler R17 miljoen per jaar terwyl daar Suid-Afrikaanse dokters beskikbaar is om die poste te vul.
Die Vrystaatse LUR vir gesondheid, Margaret Tsiu, het in antwoord op ‘n vraag van die VF Plus in die Vrystaatse wetgewer gesê dat die 16 Kubaanse dokters in die Vrystaat se salarisse meer as R1,3 miljoen per maand beloop.
Dié dokters praktiseer sedert Mei 2020 in Vrystaatse staatshospitale. Hul bruto-salarisse wissel tussen R93 000 en R117 000 per maand.
Agt van die Kubane is gewone huisdokters terwyl beter gekwalifiseerde dokters op eie bodem werkloos is.
Dié dokters kry ook voordele soos nie-pensioengewende kontanttoelaes, vaste oortydbetalings en in sommige gevalle verblyftoelaes.
In stede daarvan om plaaslike dokters die geleentheid te gee om ‘n bydrae te lewer tot die verbetering van gesondheidsorg in die provinsie, kies die ANC om sy bande met Kuba te versterk.
Die ANC draai sodoende sy rug op plaaslike dokters wat jare reeds opleiding ontvang, hul vereiste internskappe en gemeenskapsdiens voltooi het en die omstandighede in die provinsie verstaan.
Die ANC se beheptheid met sogenaamde Kubaanse kundigheid is onbekostigbaar en tot nadeel van al die mense van die Vrystaat.
Dit plaas onnodige druk op ‘n reeds leë fiskus en is ‘n klap in die gesig van werklose Suid-Afrikaners wat kan doen waarvoor die Kubane ten duurste betaal word.