Net soos daar nie in gekwalifiseerde terme oor iets soos terrorisme gepraat kan word nie, net so kan die ANC-regering nie met oogklappe kyk wanneer selfbeskikking ter sprake is nie,” sê dr. Corné Mulder, die VF Plus se hoofsweep.
Dr. Mulder het in die begrotingsposdebat van dié departement gesê selfbeskikking, wat vir die VF Plus belangrik is, is ‘n begrip wat die ANC net onder sekere omstandighede goed verstaan.
Hy sê wanneer dit Wes-Sahara aanbetref, weet die ANC wat dit beteken. Wanneer gepraat word oor Palestina, weet die ANC ook presies wat dit beteken. Maar wanneer dit kom by ander gemeenskappe en groepe, dan verstaan hulle nie ‘n woord daarvan nie.
Verwysend na die minister se uitsprake oor inklusiewe regering en demokrasie, het dr. Mulder gesê dié begrippe behoort in ‘n debat deeglik uitgepluis te word.
“Die ANC se Vryheidsmanifes self sê geen regering is legitiem tensy dit gebou word op die wil van al die mense in ‘n land nie. Die realiteit is egter dat die regering nie besorgd oor die wil van al die mense is nie, maar slegs in dit wat vir die ANC belangrik is,” het dr. Mulder gesê.
Oor Suid-Afrika se handelsbetrekkinge met Brics het dr. Mulder gesê daar sal indringende gekyk moet word na die voordeel wat dit vir Suid-Afrika inhou.
“Vier jaar gelede was almal baie opgewonde oor dié nuwe handelsvennoot. Intussen het nie veel gebeur wat handel met Brasilië en Rusland aanbetref nie, terwyl handel met Sjina in die laaste vier jaar met slegs 4% toegeneem het.
“Suid-Afrika se invoere vanaf Sjina het verlede jaar R167 miljard beloop. Dit het uitgeloop op ‘n tekort van R67 miljard. Hou ook in gedagte dat Suid-Afrika hoofsaaklik ru-materiaal soos steenkool en ystererts na Sjina uitvoer. Dit blyk dus duidelik dat daar nie ‘n balans is in ons handel met Brics nie.
“Die bedrae van R10 miljard wat Suid-Afrika aan die Brics-ontwikkelingsbank en die valuta-reserwefonds moet betaal, is ‘n groot prys vir dié vennootskap,” het dr. Mulder gesê.
Kontaknommers: 083 626 1497 / 083 419 5403