Die vermorsing van belastinggeld op onsuksesvolle landbou-projekte in Gauteng, kan nie langer geduld word nie en daarom het die VF Plus die Gautengse LUR vir landbou en landelike ontwikkeling, Parks Tau, gevra waarom die Gautengse regering nie ingegryp het by die totale agteruitgang van die agripark in Westonaria nie.
Die party het Tau ook gevra om ‘n verslag op te stel rondom die inisiatiewe en hoeveel geld reeds daarvoor beskikbaar gestel is. Oorsigbesoeke deur wetgewerlede van die portefeuljekomitee vir landbou en landelike ontwikkeling is ook van kardinale belang om die omvang en die sukses of mislukking van die projekte vas te stel.
Die regering het reeds R33 miljoen die afgelope vier jaar bestee om varsprodukte soos spinasie en blaarslaai deur middel van ‘n vertikale hidroponikastelsel in die Westonaria-agripark te kweek.
Van die kweektonnels het daar min oorgebly. Slegs ‘n paar mense plant blaarslaai en kool.
Die premier van Gauteng, David Makhura, het in sy provinsiale rede gesê die Gautengse regering gaan fokus op voedselsekerheid om sodoende die provinsie se volle landbou-potensiaal te ontwikkel.
Hy het onder meer klem gelê op die ontwikkeling van agriparke vir die verwerking van landbouprodukte om entrepreneurskap, voedselsekuriteit en werkskepping in die landbousektor te stimuleer.
Makhura het in besonder verwys na landbougebiede in Hekpoort aan die Wes-Rand, Devon in die Lesedi-plaaslike munisipaliteit, Bantu Bonke in die Midvaal-plaaslike munisipaliteit en Sokhulumi in die Tshwane-metro wat bekend is vir die verbouing van groente.
Die regering se plan om ‘n agripark in elke distriksmunisipaliteit te ontwikkel ter ondersteuning van kleinboere, werk te skep en landelike gebiede op te hef, het in die meeste gevalle klaaglik misluk.
Die VF Plus sal nie langer toekyk hoe belastinggeld in ‘n bodemlose put verdwyn terwyl staatsamptenare en die regering min doen om sulke projekte van totale ondergang te red nie.