Die VF Plus waarsku dat die Vrystaat in ’n toestand van grond-anargie kan verval indien die onwettige besetting van privaat eiendom geduld of aangemoedig word.
Die party dring daarop aan dat die Vrystaatse departement van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) dringend duidelikheid verskaf oor die status van die sogenaamde koning Letsitsa III Moloi van die Bakholokoe-stam.
Dit moet ondubbelsinnig bevestig word of Moloi wel in die Vrystaat as ’n tradisionele leier ingevolge die Grondwet en die Wet op Tradisionele en Khoi-San-leiers erken word.
Die Bloemfonteinse hooggeregshof behandel tans ’n dringende aansoek nadat Moloi vroeër in Januarie glo toestemming verleen het dat privaat grond op ’n plaas naby Harrismith beset mag word. Die VF Plus beskik oor ’n dokument wat Moloi as ’n “toestemmingsertifikaat” aanbied, waarin ’n betaling van R500 vereis word vir die uitreiking van sodanige sertifikaat.
Die VF Plus het die LUR vir Cogta, Saki Mokoena, skriftelik daarop gewys dat selfs indien Moloi as ’n tradisionele leier erken sou word, die wet hom steeds verbied om privaat eiendom toe te ken of te verdeel.
Moloi se optrede is ’n direkte uitvloeisel van die gevaarlike narratief wat die ANC, EFF en MK versprei dat grond in Suid-Afrika “gesteel” is en dat eiendom ingevolge die Onteieningswet sonder vergoeding onteien kan word.
Die VF Plus hou die hofverrigtinge fyn dop en sal aanhou daarop aandring dat die reg op privaat eiendom beskerm en gehandhaaf word.


