Die VF Plus het die Vrystaatse polisiekommissaris, genl-maj Moeketsi Sembe, versoek vir ‘n vergadering om die toenemende plaasaanvalle in die provinsie te bespreek.
Dit volg nadat Jappie van den Berg (75) en sy vrou Emma (75) Saterdag op hul plaas Langeveld in die Hertzogville-distrik aangeval is. Hulle sterk tans aan in ‘n Bloemfonteinse hospitaal.
Die VF Plus verwelkom die polisie-optrede waartydens twee polisie-helikopters ingespan is om vyf verdagtes in samewerking met die gemeenskap tydens klopjagte vas te trek. Die VF Plus bly egter bekommerd dat onverantwoordelike en ongegronde uitsprake oor grond in Suid-Afrika teikens van weerlose inwoners in landelike gebiede maak.
In baie gevalle loods groepe van twee of meer aanvallers aanvalle op plase waar die eienaars hulself nie kan verdedig nie.
Dit is hierdie veiligheidsvakuum wat die VF Plus met Sembe wil bespreek.
Die VF Plus wil tydens die beplande vergadering met Sempe veiligheidskwessies uitlig en moontlike voorstelle maak om die polisie se hand te versterk om landelike gebiede veiliger te maak.
Indien Sempe werklik daartoe verbind is om met alle sektore van die samelewing saam te werk om die provinsie se misdaad aan te spreek, kan hy nie anders as om toe te stem tot die VF Plus se versoek tot ‘n vergadering oor plaasaanvalle nie.
Elke misdaad in die provinsie behoort aandag te geniet, maar plaasaanvalle word toenemend polities-gemotiveerd weens politieke partye, waaronder die ANC en EFF, se balatante leuens dat witmense grond in Suid-Afrika gesteel het.
Die regering se grondhervormingsproses in Suid-Afrika is vir verskeie redes ‘n mislukking en die ANC speel ‘n uiters gevaarlike speletjie deur wit boere die skuld te gee vir ongelykhede in die land.
Sogenaamde wit-bevoorregting is nie automaties die rede vir swart armoede nie. Sommige politici se populistiese uitsprake in hierdie verband skep ‘n wanpersepsie van die ware probleme wat Suid-Afrika teister.
Hulle versuim om daadwerlike politieke oplossings te bied. Dit skep net die moontlikhede vir nog plaasaanvalle.
Jan van Niekerk: 083 743 2042
Armand Cloete: 076 629 6219