Die VF Plus het die voorsitter van die Gautengse wetgewer-portefeuljekomitee vir menslike nedersettings, Machwene Semenya, gevra om verslag te lewer oor die behuisingskrisis in Gauteng.
Dié komitee en lede van die nasionale raad van provinsies (NRP) is tans besig met ‘n oorsigbesoek aan Lanseria, Diepsloot, Mamelodi, Khutsong en die Savannah-megastad-projek.
Semenya het in 2020 aan die parlement aangedui om en by 300 000 mense stroom Gauteng jaarliks binne en 1,2 miljoen aansoeke om behuising word ontvang.
Volgens Semenya is die begroting en toekennings wat van tesourie ontvang word, slegs genoeg om 20 000 huise per jaar te bou.
Die departement van menslike nedersettings ondervind talle probleme rondom behuising. Dit sluit in onwettige besetting, behuisingsprojekte wat half voltooi agtergelaat word, munisipaliteite wat nie hul oorsigrol vervul nie, bouprojekte wat aangepak word sonder die aanlê van grootmaatinfrastruktuur, behuisingsprojekte wat op dolomietiese grond opgerig word, buitelanders wat onregmatig huise bewoon, diensverskaffers wat langer as 50 dae vir betaling wag, asook bedrog en korrupsie.
Die VF Plus is nie oortuig dat die departement die krisis gou sal oplos nie en het ‘n volledige verslag aangevra of daar sedert 2020 enige vordering gemaak en doelstellings bereik is.
Die party sal die verslag bestudeer om vas te stel of die departement sedert 2020 enigsins beter presteer het.