Die VF Plus het tydens ‘n vergadering van die Gautengse gemeenskapsveiligheidkomitee voorgestel dat alle vuurwapens van veiligheidstrukture van ‘n mikroskyfie voorsien moet word.
Dié voorstel volg nadat die LUR vir gemeenskapsveiligheid, Faith Mazibuko, op ‘n vraag van die VF Plus bekend gemaak het dat 279 staatsvuurwapens en duisende rondtes ammunisie die afgelope drie jaar as vermis of gesteel aangemeld is.
Daar is ‘n sterk moontlikheid dat dié vuurwapens en ammunisie in die hande van misdadigers kan beland of reeds beland het.
Deur vuurwapens met mikroskyfies toe te rus, kan die ligging van ‘n gegewe vuurwapen te alle tye vasgestel word, asook aan wie dit uitgereik is, die dag en datum en tyd wanneer die vuurwapen afgevuur is, die koördinate van die skote wat afgevuur is, die aantal skote en meer.
Dit is moderne tegnologie wat reeds deur private vuurwapeneienaars gebruik word en sal plek maak vir die ou metode van reeksnommers wat verwyder kan word om die uitkenning van ‘n vuurwapen te bemoeilik.
Polisie en veiligheidsmagte het ‘n enorme uitdaging om die inwoners van Gauteng te beskerm en daarom verdien hulle moderne tegnologie wat die uitvoer van hul pligte vergemaklik.