fbpx
Vryheidsfront Plus

VF Plus dien strafregtelik klag in teen waarnemende munisipale bestuurder van Phokwane

Die VF Plus het `n strafregtelike klag ingedien teen die munisipale bestuurder van die Phokwane-plaaslike munisipaliteit, (Hartswater, Jan Kempdorp en Pampierstat) me. Kealoboga Gaborone, rakende oortredings van die Nasionale Waterwet en Nasionale Omgewingsbestuurswet.

Die klagte is gister (12 Augustus) by die Jan Kempdorpse polisiekantoor aanhangig gemaak.

Dit volg nadat die VF Plus op 20 April 2021 ‘n skrywe aan Gaborone gerig het om haar van die rioollekkasie langs 'n brug op die N18 by Jan Kempdorp in kennis te stel.

Sy is in die skrywe daarop gewys dat sy 'n wetlike verpligting het om die besoedeling stop te sit en dat die omgewing gerehabiliteer moet word.

Sedertdien het die situasie tot so ‘n mate vererger dat daar tans ‘n riooldam in die aangrensende erf, wat ironies genoeg aan die departement van waterwese behoort, ontstaan het.

Met die party se besoek aan die rioolaanleg in Valspan is gevind dat die aanleg glad nie meer funksioneer nie. Die rotasiedamme staan leeg en die pomp werk nie. Die enigste riool wat wel in die aanleg beland, is dié wat deur die riooltrokke gestort word.

Hierdie riool beland in die verdampings-panne en eindig in die spruit agter die aanleg wat direk in die Hartsrivier inloop.

In die Valspan-woongebied loop die riool in die strate. Sommige strate is tans ‘n moddermoeras.

Die versuim om hierdie rioolkrisis reg te stel hou ernstige gesondheidsgevare vir die inwoners van die gebied in en ontneem hulle van hul konstitusionele reg op ‘n veilige en skoon omgewing.

Hierdie is weereens ‘n voorbeeld van die ANC se onvermoë om dienste aan munisipale gemeenskappe te lewer.

Die tyd het aangebreek om munisipale amptenare verantwoordbaar te hou.

Die komende munisipale verkiesing bied aan kiesers ‘n gulde geleentheid om die VF Plus se hand op plaaslike vlak sterk te maak. Staan saam deur u kruisie te trek vir die party wat werklik vir gemeenskappe omgee.

Navrae: 072 938 8588‬

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.