fbpx
Vryheidsfront Plus

Opwekking van 100MW elektrisiteit sonder lisensie in staatskoerant gepubliseer: Nou kan burgers self die ekonomie red

Die langverwagte publikasie van die nuwe, hoër perk op selfopwekking van elektrisiteit, kan letterlik die energie vrystel wat nodig is om Suid-Afrika se ekonomie te red. Die staatsbeheerde kragvoorsiener, Eskom, sukkel om na dekades van kaderontplooiing op die been te kom.

Boonop werk Eskom volgens 'n uitgedateerde model van grootskaalse, gesentraliseerde kragopwekking terwyl hernubare krag op 'n gedesentraliseerde wyse teen laer pryse opgewek kan word.

Die VF Plus maak al vir jare voorspraak daarvoor dat kragvoorsiening volgens markkragte, eerder as burokratiese regulering beheer moet word.

Die werklikheid is dat ondernemings nou in staat gestel word om hul eie krag op te wek, tot 'n perk wat dubbeld is van wat versoek is. Dit beteken dat groot kragverbruikers soos myne en smelters oor die volgende maande voluit sal werk om in hul eie behoeftes te voorsien.

Dit sal Eskom-krag beskikbaar stel vir huishoudings en ondernemings wat nie dié vermoë het nie.

Hierdie verwikkeling kan later blyk 'n waterskeidingsoomblik in Suid-Afrika se geskiedenis te wees.

Die kunsmatige eenheid van Suid-Afrika word grootliks deur kragdrade aan mekaar gehou – dit sal voortaan vir die staat moeiliker wees om sy wil op streke en provinsies af te dwing. Aandrang op Kaapse onafhanklikheid (veral met inbegrip van dele van die Noord- en Oos-Kaap) kan aansienlik daardeur versterk word.

Verder sal pogings om die land op sy knieë te dwing, soos met die onlangse orgie van vernietiging en plundering, al minder sukses behaal.

Terwyl vervoer tans van die invoer van petroleumprodukte afhanklik is, kan elektriese vervoer en plaaslike opwekking die ystergreep van mense wat in staat is om die Durban-Johannesburg-roete te ontwrig, mettertyd verbreek.

Selfbeskikking is 'n politieke denkbeeld wat slegs werklikheid kan word indien dit 'n ekonomiese basis het. 'n Belangrike struikelblok om daardie basis te bou, is nou uit die weg geruim.

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.