Die VF Plus neem met kommer kennis van die bewering dat die stad tot soveel as R16 miljoen per dag verloor weens die problematiese slimmeter-oorgangfase.
Dit volg na ‘n hofuitspraak in Oktober 2018 wat die slimmeter-kontrak met Capital Partners (PEU) ter syde gestel het. Die hof het beslis die sowat 13 000 PEU-slimmeters moet vervang word.
Die veronderstelling was dat hierdie meters steeds voorafbetaalde-meters moes wees, sodat die kontantvloei op dieselfde vlak bly. Klaarblyklik is nie al die nuwe meters oorgedra na die voorafbetaalde-meterstelsel nie en sommige meters is met die konvensionele meterstelsel vervang wat beteken die metro moet 60 dae wag vir betaling.
Die 13 000 slimmeters is oorwegend in gebruik van grootmaat verbruikers wat ‘n wesenlike gedeelte van die stad se elektrisiteit-inkomste uitmaak.
Indien die proses nie reg bestuur word nie, kan die stad se finansies en in besonder sy kontantvloei onder groot druk geplaas word en veroorsaak dat verbruikers in die toekoms nog meer sal moet betaal om die foute reg te stel. Die VF Plus meen hierdie situasie kon vermy gewees het.
Daar bestaan groot leemtes in die metroraad se elektriesiteitsafdeling en dit is juis nou die tyd om hierdie probleme te identifiseer, reg te stel, en sodoende die volhoubaarheid van die stad se finansies te versterk.
Die VF Plus as koalisie-vennoot het reeds in gesprek getree met die uitvoerende burgermeester, Stevens Mokgalapa, wat aangedui het die hoof finansiële beampte, Omar Banda, het reeds met ‘n aksieplan na vore gekom en dat die saak binnekort opgelos behoort te wees.
Die VF Plus gaan die volgende bykomende voorstelle aan burgermeester Mokgalopa doen:
• Die suksesvolle omskakeling van die 13 000 PEU-slimmeters moet prioriteit geniet. Die taakspan moet ongehinderd sy werk doen en teen einde September ‘n vorderingsverslag aan die burgermeesterskomitee voorlê rakende die finale afhandeling van die oorgangsproses.
• ‘n Ondersoek gedoen word rondom die aankoop van die nuwe voorafbetaalde-meters wat nie behoorlik funksioneer nie spesifiek in terme van die tenderproses en of die spesifikasies korrek was.
• Konsulteer met die private sektor vir die opstel van duidelike spesifikasies vir nuwe effektiewe voorafbetaalde-meters.
• Ondersoek die kwalifikasies en ervaring van amptenare betrokke in die proses en tree dissiplinêr op in gevalle van ernstige nalatigheid.
• Ondersoek munisipaliteite se groot afhanklikheid aan elektrisiteit-inkomste asook watter ander bronne van inkomste oorweeg en uitgebrei kan word.
Kontaknommer: 072 815 4053