Die VF Plus verwelkom die Grondwethof se uitspraak Maandag dat die mynboureus, Atha Africa Ventures (AVV) nie met mynboubedrywighede in die Mabola-bewaargebied in Wakkerstroom mag begin voordat alle uitstaande hofsake en -aansoeke teen hom afgehandel is nie.
AVV poog al vir ses jaar om steenkool in die waterryke bewaringsgebied Mabola in die Pixley Ka Seme-plaaslike munisipaliteit (Volksrust, Wakkerstroom, Jantjieshoek, Amersfoort, Daggakraal) te ontgin, maar word deur agt bewaringsorganisies teengestaan.
Die VF Plus het reeds in Maart 2021 'n mosie by die provinsiale wetgewer ingedien dat die provinsiale departement van landbou, landelike ontwikkeling, grond en omgewingsake, gedwing moet word om vrae so ver terug as Maart 2020 aangaande die bogenoemde mynbou-kwessie te beantwoord.
Die ANC het die mosie afgekeur.
In Junie 2021 het die VF Plus skriftelike vrae gerig aan Mpumalanga se voormalige LUR vir landbou, landelike ontwikkeling, grond en omgewingsake, Mandla Msibi, aangaande die feit dat die beskermde status van 'n groot deel van Mabola deur sy voorganger, Vusi Shongwe, eensydig en sonder rede herroep is om sodoende die myn buite die bewaargebied te laat val.
Hierdie vrae is tot op hede nie beantwoord nie.
Mpumalanga is heel bo aan die lys vir steenkoolmynmaatskappye wat nie voldoen aan watergebruiklisensies in Suid-Afrika nie en die AAV-kwessie is maar net een van vele waar verskeie dokumentasie uitstaande is.
Die ondeurdagte toestaan van steenkoolmynbou-aansoeke stuur op 'n ramp af en die VF Plus sal nie rus totdat daar seker gemaak is dat elke wet en regulasie aangaande mynbou en omgewingsveiligheid nagekom word nie.