Die VF Plus verwelkom die Grondwethof se uitspraak wat bepaal dat die plaaslike regeringsverkiesing wel volgens die Grondwetlike bepalings moet plaasvind. Die sperdatum is 1 November.
Die uitspraak is ‘n oorwinning vir grondwetlike demokrasie in die land. Die uitstel van die verkiesing sou ‘n gevaarlike presedent geskep het.
Die feit dat die Grondwethof die proklamasie van die minister van samewerkende regering, Nkosazana Dlamini-Zuma, oor die verkiesing ook ongeldig verklaar het, sit geweldige druk op die verkiesingskommissie (OVK) en politieke partye.
Dit beteken dat registrasies, die kiesersrol en kandidaat-nominasies weer sal oopmaak wat in die kort tydperk ‘n haas onbegonne taak is.
Dit opsigself bedreig die integriteit van die kiesersrol en kan ‘n nuwe krisis skep indien die tydlyne nie voor 1 November gehaal kan word nie.
Die VF Plus verkwalik die OVK asook minister Dlamini-Zuma aangesien hulle hulle daarvoor ingelaat het om deur verkeerde advies gelei te word.
Die feit dat die verkiesing reeds geproklameer was en dat die OVK daarna hof toe is, het groot onsekerheid geskep en die betrokke owerheidsinstansies het sodoende groot druk op hulself geplaas.
Dit is wel goed dat kiesers nog ‘n geleentheid gaan kry om te registreer. Die situasie het nogtans baie prosesse wat geldigheid aan ‘n verkiesing verleen, ingewikkeld gemaak.
Die VF Plus sal wil sien dat ‘n fisieke registrasienaweek so gou as moontlik plaasvind.
Dit sou onaanvaarbaar wees indien kiesers net elektronies kan registreer aangesien dit ‘n vry en regverdige verkiesing sou ondermyn.