(Debat in Gauteng-wetgewer oor geslaggebaseerde geweld)
Die VF Plus het vandag tydens 'n sitting van die Gautengse provinsiale wetgewer die premier van Gauteng, David Makhura, versoek om ‘n geïntegreerde geslagsgeweld-aksieplan aan president Ramaphosa voor te lê en te bespreek.
Makhura is voorts versoek om ‘n groep afgevaardigdes met hom saam te neem. Só ‘n plan kan resultate lewer wat nie eindig by blote besprekings, samekomste en komiteesittings nie.
Indien daar nie gehoor gegee word aan die versoek nie, is die mense van Gauteng gereed om, soos verlede Saterdag, in massas bymekaar te kom om internasionale bewusmaking te bewerkstellig.
Die VF Plus hoop dat die statistiek oor geslagsgeweld en die onbevoegdheid van die regering om die probleem suksesvol te behandel, genoeg oortuiging sal wees om te besef dat leë woorde nie meer genoeg is nie.
Indien daar nie 'n vinnige verandering kom in die benadering tot geslagsgeweld, beter wetgewing en swaarder vonnisoplegging nie, sal die regering aandadig bly vir elke slagoffer se trane, desperate gebede en stille vernedering.
Elke vrou in Gauteng met letsels van geweld, emosionele aftakeling en seerkry, het nou ‘n leier nodig om drasties aksie te neem teen geslagsgeweld.
Geslagsgeweld handel nie net oor fisieke- en emosionele pyn nie, maar dit het ‘n inpak op die moraal van die gesin en die gemeenskap rondom haar. Dit ‘n weerspieëling van die land se leierskap.
Die VF Plus sal voortgaan om druk op die premier te plaas om na die slagoffers van geslagsgeweld te luister en ‘n werkbare plan daar te stel en uit te voer. Gauteng moet die leiding neem in daadwerklike aksie teen geslagsgeweld en om dit ‘n prioriteit in Suid-Afrika te maak.
Navrae: 071 604 9498