“Die verkragting en wrede aanranding van ‘n driejarige dogtertjie naby Thaba Nchu in die Vrystaat bewys opnuut dat die 16 dae-veldtog teen die mishandeling van vroue en kinders geen noemenswaardige invloed op gemeenskappe het nie,” sê Amanda de Lange, voorsitter van die VF Plus se vrouekomitee.
Statistiek toon dat geweld teen vroue en kinders in Suid-Afrika van die hoogste in die wêreld is. Meer as 1 000 kinders is in 2012 vermoor, terwyl 12 654 aanrandingsvoorvalle by die polisie aangemeld is. ‘n Beraamde 28 128 seksuele misdrywe is verlede jaar teen kinders gepleeg. Dertig persent van hierdie kinders was jonger as 10 jaar oud.
“Nieteenstaande hierdie skokkende statistiek neem nie die president of regeringsdepartemente standpunt in om die situasie op grondvlak te behandel nie.
“Die VF Plus se vrouekomitee beoog om vroeg in die nuwe jaar ‘n dringende versoek tot die president en die betrokke ministers te rig om ‘n daadwerklike aksieveldtog hieroor te begin. Geweld teen vroue en kinders moet tot prioriteitsmisdaad verklaar word. Dit is duidelik dat die huidige veldtogte geen verskil maak nie.
“Ons wil ook sien dat strenger wette daar gestel word en dat die howe seker maak dat oortreders wel hul vonnisse uitdien. Daar behoort geen versagtende omstandighede te wees vir oortreders wat hulle aan hierdie wandade skuldig maak nie,” sê De Lange.
Die vrouekomitee van die VF Plus het dit benadruk dat mnr. Jacob Zuma as president die leiding hieroor behoort te neem.
“Dit spreek boekdele as ‘n president voete sleep met die beskerming van vroue en kinders terwyl oortreders meedoënloos maai onder die vrouegeslag,” sê De Lange.
Amanda de Lange
Tel: 071 604 9498