fbpx
Vryheidsfront Plus

VF Plus veroordeel sentralisering van korrupsie by munisipaliteite in Noordwes

Die VF Plus het tydens ‘n raadsvergadering van die Rustenburgse-plaaslike munisipaliteit (RLM), sterk kapsie gemaak teen die voorgenome inlywing van onder meer die Kgetlengrivier-plaaslike munisipaliteit (Koster, Derby en Swartruggens), sowel as ‘n gedeelte van Madibeng-plaaslike munisipaliteit (Brits, Hartbeespoort en Mooinooi) by die RLM.

Die VF Plus is die enigste party wat hierteen beswaar aangeteken het.

Die munisipale afbakeningsraad (MDB) het intussen bevestig dat die voorbereiding vir die inlywing van hierdie munisipale gebiede by RLM reeds in ‘n gevorderde stadium is.

Die inlywing van Kgetlengrivier en die ander munisipale gebiede by die RLM sal geen voordele vir die betrokke inwoners inhou nie.

Inwoners van die RLM, Kgetlengrivier en Madibeng ly jare reeds onder die gevolge van die ANC se wanbestuur en korrupsie in hierdie munisipaliteite.

Die skokkende verval in dienslewering en basiese infrastruktuur in Rustenburg, Koster, Derby, Swartruggens, Brits en Mooinooi spreek vanself.

Die sentralisering van die wanbestuur en korrupsie sal hierdie diensleweringsprobleme bloot vermenigvuldig.

Die inlywing van hierdie munisipale gebiede by die RLM blyk ook ‘n siniese poging van die ANC te wees om weer ‘n volstrekte meerderheid in die munisipale raad van die RLM te bewerkstellig.

Die ANC beheer tans die munisipaliteit slegs met die steun van kleiner partye.

Die vergroting van die RLM se grondgebied en die gepaardgaande toename aan inwonertal, kan ook meebring dat die RLM tot ‘n munisipale metropool verklaar word.

Dit sal ‘n substantiewe verhoging in die salarisse van raadslede in die munisipale raad meebring.

Dit verklaar moontlik die feit dat die ander opposisiepartye in die raad die inlywing steun ten spyte van die voor die hand liggende nadele vir inwoners.

Hierdie stap toon ook duidelik dat die ANC-regering en sy entiteite bloot fokus op die party en sy kaders se belange ten koste van inwoners.

Met die mislukking van byvoorbeeld die inlywing van die aangrensende Ventersdorp by Potchefstroom om die JB Marks-plaaslike munisipaliteit te vorm, is dit ‘n skande dat die ANC voortgaan met sy optrede.

Hierdie samesmelting het bloot daartoe gelei dat korrupsie hand oor hand toegeneem het. Inwoners van JB Marks het sedertdien ‘n ongekende verval in dienslewering ervaar.

Substantiewe kapitaalbeleggings is in die proses gestroop en kritieke infrastruktuur het verval weens wanbestuur.

In stede daarvan dat die ANC-regering oplossings tot voordeel van die land se inwoners probeer vind, is hy blykbaar vasbeslote om ten alle koste aan die mag te probeer klou en nuwe korrupsie-kanale vir sy kaders te skep.

Die inlywing van Kgetlengrivier en ander munisipale gebiede kom bloot neer op die sentralisering van korrupsie en wanbestuur ten koste van inwoners.

Die VF Plus sal bly stry teen sulke ongerymdhede en magsug in ANC-beheerde munisipaliteite in Noordwes.

Die inwoners van Rustenburg, Kgetlengrivier en Madibeng verdien beter as die ANC.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.