Die VF Plus stem saam dat daar ‘n geleidelike verslapping van inperkingsregulasies moet wees alhoewel dit nie heeltemal duidelik is watter regulasies wel verslap word nie aangesien dit by herhaling geblyk het dit wat die regering sê en dit wat toegepas word, nie noodwendig dieselfde is nie.
Hierdie uiteenlopende vertolking van regulasies weens die gebrekkige en duidelike kommunikasie van regeringskant, is juis een van die groot klagtes van die VF Plus oor die aangeleentheid.
Nogtans word van die verslappings aan die regulasies wat vandag aangekondig is, vervat in die voorlegging in dié verband wat die VF Plus aan president Cyril Ramaphosa en die nasionale ramp-taakspan gemaak het.
Minister Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele aangeleenthede, het vandag onder meer aangekondig dat myne weer tot die helfte van hul kapasiteit kan begin funksioneer.
Dit is ‘n poging en ‘n voorbeeld oor hoe om mense geleidelik te laat terugkeer na die werkplek en is in lyn met die standpunte en voorstelle van die VF Plus. Die party steun daarom sulke voorstelle.
Terselfdertyd verskil die VF Plus lynreg met die siening van die minister van polisie, Bheki Cele, dat buurt- en plaaswagte nie verantwoordbaar is nie en dat niemand ‘n klag teen hulle kan indien nie.
Dit is onwaar. Hierdie wagte funksioneer nog altyd openlik en die gemene reg is daar dat indien enige van die wagte se lede onwettig sou optree sou hulle direk persoonlik aanspreeklik gehou kan word ingevolge die gemene reg.
Dit is ‘n baie meer direkte vorm van aanspreeklikheid as in die geval van lede van die polisie waar klagte eers deur die formele struktuur behandel moet word. Hierdie argument van die minister van polisie om te sê dat daar nie aanspreeklikheid is nie is totaal onaanvaarbaar en die VF Plus verwerp dit.
Die VF Plus sal ‘n wakende oog hou oor regulasies soos wat dit mettertyd verslap word en weekliks aangekondig word. Die party is van mening dat die voorstelle wat hy ingedien het, ‘n belangrike deel sal uitmaak van die besluite om van die huidige regulasies te verslap.
Van die voorstelle van die VF Plus wat deel vorm van vandag se aangekondigde veranderinge, is oor die inligtingstegnologie-bedryf wat in sekere omstandighede nou as noodsaaklik beskou word aangesien die huis nou grootliks die plek van die kantoor en die klaskamer ingeneem het.
Nog ‘n aspek wat ook aangespreek is, is ysterware. Die VF Plus het in sy voorstelle gesê ysterware beskikbaar gestel moet word vir kritieke instandhoudingswerk en die minister van handel en nywerhede het in besonder daarna verwys.
In die lig van vandag se veranderinge is dit vir die VF Plus duidelik dat sy voorstelle gewig dra en die party glo dat sy voorlegging aan die president en die nasionale taakspan ‘n groot rol daarin sal speel om ‘n sinvolle terugkeer na normale omstandighede en ekonomiese herlewing te bewerkstellig.
Kontaknommers: 083 627 4397 / 065 801 7216