fbpx
Vryheidsfront Plus

VF Plus stel ultimatum aan Eskom oor beplande afleggings van onder meer 500 wit mans teen 2025

Terwyl die land onder ‘n ongekende energiekrisis gebuk gaan, beplan Eskom, luidens sy jongste gelyke indiensnameplan, om 500 wit vakmanne teen 2025 af te lê.

Gegewe die bestaande gebrek aan kundigheid by die kragvoorsiener, is dit absurd.

Die VF Plus het ‘n ultimatum aan die raad van Eskom gestel om gegewe die heersende energiekrisis sy gelyke indiensnameplan te wysig.

Die Wet op Gelyke Indiensneming bepaal dat werkgewers redelike stappe moet doen om daaraan te voldoen. Dit is nié redelik om tans ‘n verdere verlies aan vaardigheid en institusionele kennis te bewerkstellig midde in hierdie ramp nie.

Indien Eskom nie binne sewe dae aan hierdie ultimatum voldoen nie, sal die VF Plus regstappe neem om dit af te dwing.

Die minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan, het in sy begrotingsrede in Mei verlede jaar bevestig dat kundige wit ingenieurs wat voorheen vir Eskom gewerk het, teruggelok word na Eskom om te help om die energiekrisis by te lê.

Dit gebeur terwyl Eskom sedert 2 000 sowat R1,8 miljard betaal het juis om van wit kundiges ontslae te raak. Hierdie siklus word nou herhaal.

Die VF Plus het daarom ook ‘n skrywe aan Gordhan gerig en versoek dat daar dringend van sy departement se kant af by hierdie onbesonne en ondeurdagte plan van Eskom ingegryp word.

Die moontlikheid bestaan dat Eskom juis vanweë die minister se aankondiging, nou sy rasbalans wil aanpas deur van tegniese personeel op laer posvlakke ontslae te raak.

Dit is juis hiérdie vakmanne wat daagliks spook om die sukkelende elektrisiteitsinfrastruktuur in stand te hou.

Verskeie gebiede gaan nie net onder beurtkrag gebuk nie, maar die jammerlike toestand van die elektrisiteitsinfrastruktuur veroorsaak dat die krag dan weens ernstige foute vir tot 48 uur op ‘n slag afgaan.

Dit is werklik nie nou die tyd om op rasseteikens te fokus terwyl werkloosheid die hoogte in skiet en ‘n voedselkrisis dreig as gevolg van Eskom se beurtkragskande nie.

In die 2021-boekjaar het 76% van Eskom se verkryging ten bedrae van sowat R134 miljard vanaf SEB-firmas en ondernemings gekom.

Dit stel reeds genoegsame voldoening aan drakoniese en uitgediende SEB-wetgewing daar om ‘n uitsondering op die indiensnamekwota te midde van die huidige kragkrisis te regverdig.

Suid-Afrikaners boet nou vir Eskom-, net soos met die regerende ANC, se verkeerde prioriteite. Dit moet onmiddellik stopgesit word.

As deel van die VF Plus se Tienpuntplan om die energiekrisis op te los: Herstel en Bou, word ook geëis dat ‘n moratorium op rasgegronde aanstellings geplaas word, dat aanstellings eerder op kundigheid en ervaring gegrond word en dat dieselfde geld wat betref verkryging en diensverskaffers van Eskom.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.