fbpx
Vryheidsfront Plus

VF Plus sien swarigheid vir gesondheid na verkiesing van omstrede voorsitter

Die VF Plus sien swarigheid voorlê vir die land se gesondheidsituasie nadat dr. Sibongiseni Dhlomo, voormalige LUR vir gesondheid in KwaZulu-Natal, tydens die eerste portefeuljekomitee-vergadering vir gesondheid in die parlement, tot komiteevoorsitter verkies is.

Dr. Dhlomo se vertrek uit KwaZulu-Natal as LUR vroeër vanjaar, is deur opposisiepartye verwelkom. Hy het in sy amp as LUR van die een krisis na die ander beweeg. Sy “Make Me Look Like A Hospital”-projek was nie suksesvol nie en hy het die blaam daarvoor op die hospitaal-bestuur geplaas toe dit nie geïmplementeer kon word nie.

Hierdie projek het dit ten doel gehad om ‘n stem te gee aan die publiek en hospitaalpersoneel om hospitale te verbeter.

Dr. Dhlomo staan ook bekend daarvoor dat hy verantwoordelik was vir die verval van KwaZulu-Natal se gesondheidsdienste. Volgens berigte was hospitale vuil en het nie eens oor die basiese linne beskik nie en mense het in hospitale onder vreemde omstandighede gesterf.

R9 miljard het in sy departement verlore gegaan weens inkrimping van die begroting. Sy amp as LUR word gekenmerk deur swak politieke leierskap en swak begrotings. Hospitale se apteke was leeg en het luidens berigte in ‘n stadium slegs 117 items op die medisynerak gehad.

Die VF Plus het vandag dr. Sibongiseni Dhlomo se nominasie as portefeuljekomitee-voorsitter teengestaan en het sy stem gevoeg by ‘n nominasie van die opposisie. Die ANC se nominasie het gewen met ses stemme teenoor vier van die opposisiepartye. Die EFF het buite stemming gebly.

Die VF Plus wil sien dat die haglike toestande van hospitale in die land reggeruk word en dat die minister ‘n aanduiding moet gee hoe die departement van gesondheid uit die moeras van korrupsie en uiters swak dienslewering gered gaan word.

Korrupte amptenare en voormalige LUR’e wat verantwoordelik was vir die ineenstorting van gesondheidsdienste deur die land is juis hiervoor verantwoordelik en moet daarvoor verantwoording doen.

Die VF Plus is bekommerd daaroor dat die ANC se aanwysing van dr. Dhlomo juis die plan was om hierdie tipe wanpraktyke verder onder die mat in te vee aangesien die nuutverkose voorsitter self, tydens sy amp as LUR van gesondheid, ook sy departement in duie laat stort en met groot omstredenheid agter gelaat het.

Die VF Plus sal die komende vyf jaar hard baklei in die portefeuljekomitee vir geregtigheid vir die families wat naasbestaandes in hospitale aan die dood afgestaan het weens onverklaarbare redes en ook om toe te sien dat die publiek die gesondheidsorg kry waarop hulle geregtig is.

Daar mag nie langer toegelaat word dat hospitale as slagpale en lykshuise bedryf word nie, maar eerder om behoorlik om te sien na siekes en om toe te sien dat behoorlike medikasie en voldoende gesondheidsorg te alle tye beskikbaar is.

Kontakbesonderhede: 060 556 4347

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.