fbpx
Vryheidsfront Plus

Premier Makhura maak baie beloftes en spel drome uit, maar sal nie kan lewer met sy huidige span nie

Premier David Makhura se provinsiale-rede vandag by die Universiteit van Johannesburg se satelliet kampus in Soweto was vol beloftes. Hy het ook drome uitgespel soortgelyk as die van president Cyril Ramaphosa en hy het vele mikpunte gestel. Die VF Plus is egter bevrees dat hy nie een van die mikpunte sal behaal nie omdat hy omring is met onbevoegde mense wat meer in politiek belangstel as om die publiek te dien.

Die belangrikste kwessie tans is die ekonomie. Die premier is beperk rakende sekere aspekte van die ekonomie in die provinsie, want die ANC dikteer op nasionale vlak beleid wat ‘n negatiewe effek het, soos regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging.

Hy het wel probeer om ‘n plan uit te stippel rondom beleggings wat na Gauteng gelok moet word, maar hy het glad nie inhoud daaraan gegee hoe hy beleggings gaan lok nie. Hy het meestal bloot ‘n inventaris gegee van bestaande besighede in Gauteng soos motorfabrieke wat addisionele beleggings gemaak het.

Hy het egter geen plan om nuwe beleggings te lok nie binne ‘n omgewing waar daar op nasionale vlak gepraat word van onteiening sonder vergoeding van grond en ander eiendomsregte.

Premier Makhura het ook gepraat van die skep van talle spesiale ekonomiese sones, maar dit sal nie suksesvol wees sonder substantiewe belastingvoordele vir besighede en die skep van groter markvryheid deur die verslapping van arbeidswette nie. Die geskiedenis het dit reeds bewys. Daarby kan die spesiale ekonomiese sones net met die toestemming van die minister van handel en nywerheid geskep word en dit bind ook premier Makhura se hande om te lewer op sy ekonomiese beloftes.

‘n Baie groot probleem, veral vir toekomstige ekonomiese ontwikkeling, is die swak onderwysstelsel wat leerders faal. Talle verlaat skool sonder dat hulle na behore kan lees, skryf en tel. Gevolglik vind hulle moeilik werk wanneer hulle die skool verlaat, want stedelike besighede neem nie maklik ongeskoolde persone in diens nie.

Die gevolg hiervan is ook dat besighede nie maklik in Gauteng belê nie. Daarom moet skole reggeruk word en daar moet veral aan moedertaalonderrig aandag gegee word wat die beste wyse is om ‘n gesonde fondasie vir leerders te lê tydens die grondslagfase van skoolonderrig. Sonder hierdie ingryping is die toekoms inderdaad donker. Ongelukkig het die premier niks oor moedertaalonderrig genoem nie en die VF Plus sal die kwessie verder opneem.

Die VF Plus wil nogtans ‘n pluimpie aan die premier gee rondom sy aandag aan landelike veiligheid. Die VF Plus het vroeër ‘n landelike veiligheidsplan aan die premier voorgelê en hy het in sy toespraak onderneem om aandag daaraan te gee en te sorg dat plaasmoorde aangespreek word. Dit is baie bemoedigend en die VF Plus sal hom hom herinner aan sy onderneming ten einde uitvoering daaraan te gee.

Die onderneming maak van die premier ‘n staatsman in dié opsig en dit is meer as wat ons van die president kan sê wat hieroor geswyg het.

Uiteindelik sal ons oor tyd vasstel of die premier se talle planne gaan werk en of korrupsie en onbevoegdes dit gaan kniehalter. Die VF Plus glo egter, gegewe die swak prestasie in die verlede en faksiegevegte in die ANC, die planne nie tot wasdom gaan kom nie en daar sal uiteindelik ‘n koalisie in Gauteng tot stand moet kom om gesonde beleid te implementeer en dienslewering te verbeter.

Kontaknommer: 082 391 3117

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.