Die VF Plus se beleidsvoorstel van groter magte vir die Wes-Kaap deur ‘n federaal-konfederale staatsbestel is besig om al groter aanklank te vind en dit is duidelik dat ander partye dit as ‘n werkbare oplossing vir baie van die provinsie se probleme sien.
Die uitslae van die nasionale verkiesing op 8 Mei vanjaar was ‘n duidelike bewys dat groot ontnugtering besig is om pos te vat onder kiesers oor onder meer dienslewering wat onder die ANC-regering besig is om te disintegreer.
Dit het ook nie ongesiens by die DA verby gegaan nie, soos blyk uit die Wes-Kaapse premier Allen Winde se voorstel van ‘n eie polisiemag, deur die uitbreiding van die metropolisie tot 'n groter munisipale polisiemag wat ook aangewend kan word teen plaasaanvalle.
Hierdie, en ander voorstelle om meer magte na die provinsie af te wentel, is deurentyd gemaak deur die VF Plus se premierskandidaat (mnr. Peter Marais) in aanloop tot die verkiesing.
Nog ‘n voorstel was groter samewerking tussen die drie regeringsfere wat noodsaaklik is vir suksesvolle misdaadbekamping in Wes-Kaap. Die VF Plus, DA en ANC sal in belang van die provinsie se inwoners hande moet vat en saamwerk om werkloosheid en misdaad te bekamp.
Op dieselfde wyse sal die VF Plus ander partye moet oorreed om in te koop in sy strewe om Afrikaans te red en bewaar. Die VF Plus sal hierdie strewe namens alle Afrikaanssprekendes dryf. Die DA is welkom om deel te raak van die VF Plus se strewe en reis na selfbeskikking vir die Wes-Kaap.
Kontaknommers: 082 907 9177 / 065 801 7216