fbpx
Vryheidsfront Plus

VF Plus se reaksie op die Gauteng Begroting

Die VF Plus het die LUR van Finansies in Gauteng, Barbara Creecy, se provinsiale begroting wat gister ter tafel gelê is, verwelkom.

Die begroting wat voorgelê is, is heelwat beter as die vorige begroting van 2015 en belastingbetalers se geld word nou op min of meer die regte sake spandeer. Die VF Plus verwelkom die bedrag van R33.2 miljoen wat beskikbaar gestel is om boere in Gauteng by te staan met die knellende droogte waardeur hul is. Die bedrag van R1.9 miljard wat beskikbaar gestel is vir die opgradering van hospitale in die provinsie word ook verwelkom maar die VF Plus waarsku dat alles by die department van gesondheid nog nie na wense is nie en dat die party se ondersoek rondom groot getalle sterftes in hospitale nog aan die gang is. Die VF Plus is bekommerd dat opgradering van hospitale alleen nie die probleem gaan oplos nie, maar dat daar nogsteeds dringend ingegryp moet word om onnodige sterftes die hok te slaan.

Die VF Plus is ook tevrede met die begroting van R3 miljard wat aan onderwys afgestaan word vir die voltooing van nog twaalf nuwe skole in die provinsie en die opgradering van bestaande skole. Die VF Plus het reeds die LUR van onderwys aan die einde van 2015 gewaarsku dat onderwys in die provinsie op ‘n krisis afstuur indien daar nie dringend nuwe skole vir die miljoene leerders gebou word nie.

Die VF Plus in Gauteng het wel ‘n bekommernis dat daar te min geld beskikbaar gestel is vir die bou van huise wat maar slegs R5.2 miljard van die begroting beloop. Die behuisingskrisis het reeds handuit geruk deurdat die behuisingsagterstand nie gou genoeg uitgewis kon word nie. Die party verwelkom die R2.3 miljard vir die opgradering van die provinsie se paaie maar nog meer geld kon ook bewillig geword het om in te gryp by paaie in munisipaliteite wat tans in ‘n erge toestand verkeer.

Wat die beskikbaarheid van R325 miljoen aan die uitbrei van gratis Wi-Fi by skole en biblioteke in Gauteng betref, het die VF Plus reeds in 2014 daarteen beswaar aangeteken aangesien hierdie fondse veel eerder op ‘n krisis soos paaie en behuising gespandeer kon gewees het.

Die VF Plus se LPW in Gauteng, mnr Philip van Staden, het gesê dat die VF Plus die hoop uitspreek dat die begroting hierdie jaar nie net reg aangewend word omdat ons aan die vooraand van ‘n munisipale verkiesing is nie, maar dat daar oor die volgende drie jaar totdat die bestaande administrasie se termyn verby is, ook op die regte kwessies in die provinsie gefokus sal word.

 

Tel: 084 015 4722

Philip@vf.co.za / PvanStaden@gpl.gov.za

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.