Enige poging van Transnet en die staat om ‘n pensioenfonds van 62 160 oud-werknemers te ontbind, sal ‘n menseregteskending van die ergste graad wees en die VF Plus sal elke moontlike stap neem om dit te beveg, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor vervoer.
Adv. Alberts sê die enigste manier om die fonds te ontbind, is deur ‘n wetswysiging wat onder meer bespreek sal moet word in die parlementêre portefeuljekomitee op openbare ondernemings.
“Die VF Plus sal op parlementêre vlak alle prosesse gebruik om die ontbinding van die fonds teë te staan.
“Die effek van die ontbinding sal rampspoedig wees en sal 62 160 lede en hul afhanklikes, wat reeds verarm is en ver onder die broodlyn leef weens die wanbestuur van hul pensioenfonds, sonder enige inkomste laat.
“Dit sal op dieselfde neerkom as oud-president Thabo Mbeki se MIV/Vigs-ontkenning en sal duisende mense laat sterf weens siekte en honger. Dit sal ‘n menseregteskending van die ergste graad wees en sal op niks anders neerkom nie as moord.
“Dit is bekend dat baie mense al weens hul haglike, armoedige lewensomstandighede dood is en dat baie selfmoord gepleeg het om van hul armoede te ontsnap.
“Uitlatings wat Brian Molefe, uitvoerende hoof van Transnet, luidens ‘n berig in Rapport gemaak het dat die lot van die pensioentrekkers hom nie aangaan nie omdat hulle ‘begunstigdes van apartheid is’, is boonop skokkend ongevoelig en uiters onkundig aangesien net 53% van die lede wit is.
“Die VF Plus beywer hom al jare vir die regte van die bejaarde lede van die fonds, en sal daarom ook sy volle ondersteuning met die hofsaak bied wat vandag in die Noord-Gautengse Hooggeregshof begin in die vorm van ‘n klasaksie-aansoek,” sê adv. Alberts.
Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403