Die VF Plus sal die minister van menslike nedersettings, me. Mmamoloko Khubayi, hou by haar onderneming dat streng opgetree sal word teen onwettige grondgrypers.
Khubayi het gister tydens ʼn debat in die NRP sterk standpunt ingeneem teen onwettige grondbesetting. y het veral die EFF beskuldig vir sy populistiese uitbuiting van die behuisingsnood onder arm gemeenskappe, en die aanstigting van onwettige grondgrype.
Die minister het egter geen melding gemaak van die rol van ANC-faksies en munisipale raadslede in onwettige grondbesettings nie.
In verskeie voorvalle in Noordwes en elders in die land het gemeenskappe aangedui dat ANC-raadslede betrokke was by die aanhitsing van onwettige grondbesettings. Ook dat raadslede selfs erwe uitgemeet en verkoop het aan gemeenskapslede.
Sulke voorvalle het onder meer in Stilfontein en Potchefstroom voorgekom, maar niemand is daaroor vervolg nie.
Die gebrek aan behoorlike ondersoeke en die doeltreffende vervolging van besetters en diegene wat grondgrype aanstig, kom daarop neer dat die ANC-regering hierdie onwettige optrede goedkeur.
Alhoewel dit verfrissend is om te verneem dat die ANC-regering beplan om voortaan die land se wette oor grondbesit toe te pas, sal die VF Plus die situasie monitor.
Die party sal seker maak vervolgings word nie selektief toegepas om onder meer ANC-faksiebelange te beskerm nie.
Ordelike stedelike- en dorpsontwikkeling vorm ʼn kern-onderdeel van Suid-Afrika se ekonomiese fondasie.
Die verwaarlosing en misbruik van sulke ontwikkeling vir persoonlike en politieke gewin, hou ʼn daadwerklike bedreiging vir die land in en moet as sodanig geprioritiseer en hanteer word.
Suid-Afrika se ekonomiese ontwikkeling kan nie langer gyselaar gehou word deur opportunistiese ANC-en EFF-politici wat net hul eie belange dien nie.
Suid-Afrika verdien beter as die ANC.