Die VF Plus sal aanhou druk uitoefen op die Gautengse gesondheidsdepartement om sy planne om ‘n nuwe 300-bed distrikshospitaal op die terrein van die bestaande Kemptonpark-hospitaal te bou, uit te voer.
Die Gautengse LUR vir gesondheid, me. Nomantu Nkomo-Ralehoko, het hierdie planne bekendgemaak in ‘n skriftelike vraag van die VF Plus.
Volgens die LUR het die gesondheidsdepartement die Gautengse agentskap vir infrastruktuurbefondsing genader vir befondsingsvoorstelle om die bestaande hospitaal te sloop en ‘n nuwe een te bou.
Dié diensverskaffer het 'n verslag voltooi met voorgestelde opsies wat na bekostigbaarheid, tydraamwerke en regulatoriese nakoming kyk.
Die voorstelle word nog oorweeg. Geen begroting is al aan die projek toegeken nie en daar is geen tydlyne in hierdie stadium nie.
Inwoners is tans aangewese op die hulp wat hulle van die Kemptonpark-, Spartan-, Birchleigh-Noord- en Birchleigh-klinieke ontvang wat pasiënte na die oorvol Tembisa-hospitaal verwys.
Dié hospitaal is 20km ver van die klinieke en in sommige gevalle kan siek pasiënte nie eens die taxi-tarief bekostig nie.
Die VF Plus plaas die sluiting van die oorspronklike Kemptonpark-hospitaal voor die deur van die ANC-beheerde Gautengse regering.
Die besluit om die hospitaal in 1996-1997 weens “onderbenutting” te sluit was kortsigtig .
Dit is ‘n skande dat ‘n eens ten volle toegeruste hospitaal gesluit is en daar nou ‘n tekort aan openbare gesondheidsorg aan die Oos-Rand is.
Gauteng verdien beter as die ANC.


