Die bestuur van die Dipaleseng-plaaslike munisipaliteit (Grootvlei, Balfour, Greylingstad) het uiteindelik op aandrang van die VF Plus teen stakende munisipale werkers begin optree.
Die voortslepende staking van munisipale werkers is besig om ʼn ernstige krisis te veroorsaak aangaande dienslewering in dié munisipaliteit.
Inwoners het die afgelope twee weke herhaaldelik voor dooiemansdeur by verskeie munisipale kantore opgedaag. Geen voertuig- of bestuurslisensies kon bekom word nie, geen munisipale rekeninge is uitgestuur nie en geen betaalpunte was oop nie.
Die VF Plus het beide die munisipale bestuurder, me. Cindi Lwazi, en die burgemeester, mnr. Khethiwe Moeketsi, versoek om dringend op te tree teen die stakende werkers.
Hulle staak al vir bykans twee weke weens ontevredenheid oor oortydvergoeding.
Onwettige stakers moet volgens die bepalings van arbeidswetgewing afgedank word en met bevoegde personeel vervang word.
Die voorstel is uiteindelik aanvaar en verskeie onwettige stakers is hierdie week afgedank nadat hulle geweier het om binne die voorgeskrewe tydperk terug te keer werk toe.
Dit skep nou die geleentheid vir die munisipaliteit om bevoegde personeel met die nodige kwalifikasies aan te stel en nie net eenvoudig kaderontplooiing toe te pas nie.
Die VF Plus sal toesien dat die munisipaliteit die belange van die inwoners eerste stel. Die inwoners ly reeds te lank onder die gevolge van die ANC se wanadministrasie, kaderontplooiing en korrupsie.
Die VF Plus sal bly veg vir die herstel van ʼn skoon munisipale administrasie in Dipaleseng.