Die VF Plus-Jeug in Gauteng het gister se onwettige optog deur minibustaxi’s veroordeel wat die verkeer in Pretoria se middestad en verskeie hoofroetes versper het en sodoende leerlinge, wat besig is met eksamen, verhinder het om eksamenlokale betyds te bereik.
Die optrede van die Nasional Taxi Alliance (NTA), wat toegelaat het dat optoggangers paaie versper, is onverantwoordelik en selfsugtig in ‘n tydperk waar duisende matriekleerlinge eksamen moet aflê.
Leerlinge is reeds vanjaar weens die Covid-19-pandemie onder druk geplaas en moet daarom ‘n regverdige kans gegun word om hul akademiese jaar suksesvol te voltooi. Die NTA het hierdie geleentheid van baie weggeneem en die VF Plus-Jeug hoop daar kan ‘n tweede geleentheid geskep word vir diegene wat nadelig deur die optog geraak is.
Die departement van onderwys in Gauteng het wel ‘n vergunning gemaak dat leerlinge wat gister 'n uur laat opgedaag het by eksamenlokale, toegelaat moet word om eksamen te skryf. Die moontlikheid bestaan egter dat daar leerlinge is wat nie alternatiewe vervoerreëlings kon tref nie en dus glad nie eksamen kon skryf nie.
Die Tshwane Universiteit vir Tegnologie het volgens hul webtuiste noodgedwonge eksamens afgelas. Studente wat betyds in die eksamenlokaal was, is toegelaat om die eksamen te voltooi.
Die VF Plus-Jeug sal sy wetgewerlede in die Gautengse wetgewer versoek om in gesprek te tree met die LUR vir onderwys, Panyaza Lesufi, om leerlinge wat nadelig geraak is, te identifiseer en alles moontlik te doen om hulle tegemoet te kom.