Die VF Plus veroordeel die gewelddadige protesoptrede van ANC-jeug by die Pretoria-kampus van die Tshwane Universiteit vir Tegnologie (TUT) ten sterkste en vra dat die polisie genadeloos teen die molesmakers optree aangesien hulle nie protesteerders is nie, maar misdadigers, sê Jean Kriek, die VF Plus se jeugleier vir Gauteng.
Kriek sê dit raak moeilik om te onthou wanneer laas dié kampus se akademiese program normaalweg gefunksioneer het, aangesien sy deure telkens na opneming gesluit moet word weens ongebreidelde boewery.
Hy sê TUT het gister (Woensdag 15 Februarie) ná die jongste vlaag van geweldpleging besluit om sy program vir ‘n onbepaalde tyd op te skort.
“Oor die afgelope drie jaar is daar herhaaldelik probeer om die studente se probleme deur sinvolle dialoog op te los, maar hulle stel nie daarin belang nie.
“Daar moet ook gevra word waarom studente in ANC-drag by ‘n akademiese instelling protesteer. Akademiese instellings het ‘n funksie en verantwoordelikheid om opvoeding aan te bied en indien die studente probleme het, kan hulle voor die ANC se hoofkantoor Luthuli-Huis of by ANC-regeringskantore gaan protes aanteken.
“In hierdie stadium is dit nie eens duidelik waaroor hulle ongelukkig is nie. Dit kan egter nie langer geduld word nie.
“Instellings soos TUT is nie politieke speelvelde wat daargestel is vir die ANC-jeug om te misbruik nie. In die proses ontneem hulle ander studente die geleentheid om onderrig te ontvang.
“Die VF Plus doen ‘n beroep op die polisie en die Gautengse Departement van Onderwys om toegewyde studente se grondwetlike reg tot onderrig te beskerm en diegene in hegtenis te neem wat onder die dekmantel van protes so gewelddadig geraak het dat ander se veiligheid bedreig word en groot skade aan die kampus se infrastruktuur aangerig word,” sê Kriek.
Kontaknommer: 079-224-7321