Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

VF Plus in Mpumalanga doen weer ‘n beroep op premier om die beloofde leefstyl-oudits uit te voer

Op 25 Februarie 2020 het die VF Plus ‘n versoek gerig tot die premier van Mpumalanga, Refilwe Mtsweni-Tsipane, om leefstyl-oudits vir amptenare in diens van Mpumalanga-munisipaliteite en die provinsie in te stel. Sy het dit in haar provinsiale openingsrede in Februarie as ‘n voorneme gestel.

Die VF Plus se versoek is nie ongegrond nie, aangesien die plaaslike munisipaliteite van Dr. JS Moroka (Mdala-natuurreservaat), Lekwa (Morgenzon, Standerton) en Govan Mbeki (Bethal, Charl Cilliers, Embalenhle, Evander, Kinross, Leandra, Secunda, Trichardt) reeds onder administrasie geplaas is met ernstige aantygings van wanbestuur en korrupsie.

Die volgende munisipaliteite is ook geïdentifiseer vir forensiese ondersoeke (Artikel 106 onder die Munisipale Stelselswet) weens aantygings van wanbestuur, wanadministrasie en korrupsie.

• Nkomazi-plaaslike munisipaliteit (Komatipoort, Malalane, Marloth Park)
• Pixley ke Seme-plaaslike munisipaliteit (Amersfoort, Perdekop, Volksrust, Wakkerstroom)
• Bosbokrand / Bushbuckridge-plaaslike munisipaliteit (Sabie Park) wat voorheen ook onder administrasie geplaas was
• Emalahleni-plaaslike munisipaliteit (Witbank)
• Thembisile Hani-plaaslike munisipaliteit (KwaMhlanga)

Die VF Plus is van mening dat die provinsie se strategieë om korrupsie in munisipaliteite hok te slaan, versterk moet word met leefstyl-oudits vir alle uitvoerende burgemeesters, finansiële hoofbeamptes, munisipale bestuurders en uitgebreide families. Dit sal vroegtydig ongerymdhede ontbloot voor die munisipaliteit in finansiële wanorde verval.

Leefstyl-oudits moet onmiddellik gedoen word op uitvoerende amptenare van munisipaliteite wat reeds deur die provinsiale regering onder administrasie geplaas is. Op dié manier kan die skuldiges wat die oorsaak is van die totale verval van die munisipaliteite, tot verantwoording geroep word.

Navrae: 084 652 9164 / 076 687 2830

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.