Die VF Plus in Midvaal het die afgelope naweek saamgewerk om die Voortrekkers se Fakkelmonument in die hoofstraat van Vereeniging na die Vredesmonument-tuin te verskuif.
Dit is gedoen saam met organisasies soos die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniging (FAK), die Voortrekkers, Suikerbosrand-Geloftekomitee, die Genealogiese-genootskap van Suid-Afrika (GGSA) en die Vaaldriehoek se weermagveterane.
Die monument het in die hoofstraat van Vereeniging gestaan en is deur die jare gevandaliseer en as kennisgewingbord vir advertensies gebruik.
Die beeld simboliseer die ryk Afrikaner-geskiedenis van die 1938-Fakkelloop waar die Kaapse- en Natalse-feesfakkels mekaar op 14 Desember in Vereeniging ontmoet het. ‘n Skare van 10 000 mense het die fakkels ingewag en 50 polisiebeamptes was nodig om die opgewonde skare te beheer.
Die VF Plus en ander organisasies het Saterdag by die Vredesmonument byeengekom om die terrein skoon te maak ter voorbereiding van die verskuiwing waarna die palissadeheining wat die monument omring, afgeskuur en geverf is. Die monument is Sondag verskuif.
Die geleentheid is bygewoon deur dr. Pieter Mulder, voormalige VF Plus-leier en oud-geskiedenisprofessor wat ‘n insiggewende praatjie oor die monument se historiese geskiedenis gelewer het.
Samewerking tussen organisasies om die Afrikaner-geskiedenis vir die nageslag te bewaar, is van die grootste belang en daarom sal die VF Plus altyd daarna streef om die Afrikaner se grondwetlike reg om sy kultuur en erfenis te herdenk, uit te leef.
Die Afrikaner het oor die eeue heen ‘n belangrike rol gespeel om die land op te bou tot voordeel van alle Suid-Afrikaners.
Navrae: 071 640 7283