fbpx
Vryheidsfront Plus

VF Plus gaan OB versoek om band tussen ANC, Zuma en die OBK te ondersoek na nuwe inligting oor leningsaansoek vir Nkandla

Ontstellende tekens dat die ANC en pres. Jacob Zuma die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) se fondse as hul persoonlike spaarvarkie gebruik, kom al hoe meer na vore, en die VF Plus gaan die Openbare Beskermer (OB) vra om dit te ondersoek, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor ekonomie.

Die OBK bestuur die staat se pensioenfonds.

In die jongste voorval het dit aan die lig gekom (Rapport, 31 Julie) dat die OBK ‘n aandeel van 25,26% het in die VBS Mutual Bank, voorheen bekend as die Venda Bouvereniging waar pres. Zuma glo geld wil leen om sy Nkandla-skuld te betaal.

Die deel wat Zuma volgens ‘n bevel van die OB moet terugbetaal, beloop R7,8 miljoen. Teen ‘n rentekoers van slegs 10% sal dit R75 270 per maand beloop, of by benadering R903 000 per jaar. Dit terwyl Zuma se totale salarispakket voor aftrekkings R2,8 miljoen per jaar is.

In 2014 het die media berig oor ‘n transaksie waar die OBK sowat R3 miljard belê het in ‘n feitlik bankrot oliemaatskappy, Camac Energy. Daar is berig dat ene mnr. Kase Lawal, ‘n Amerikaner van Nigeriese afkoms en kennis van pres. Zuma, in beheer is van die maatskappy.

Daar is nooit weer hieroor berig nie, en dit is nie bekend of die maatskappy steeds bestaan nie. Dit was egter van meet af duidelik dat die transaksie ‘n reuse dobbelspel met pensioengeld was en daarom ongeoorloof, sê adv. Alberts.

Vroeër vanjaar was daar groot ontevredenheid toe ‘n ekonomiese ontwikkelingsplan vir Tshwane/Pretoria goedgekeur is met geld komende van die OBK en die aankondiging dat ‘slegs swart mense’ daarby baat sal vind.

Adv. Alberts sê die geld van die fonds behoort aan mense van Suid-Afrika wat daarvoor gewerk het, en die staat en pres. Zuma kan nie onbehoorlik of riskant daarmee omgaan nie.

“Die OB moet nou ‘n vergrootglas hierop plaas en moet vasstel presies hoe wyd en diep die president en die ANC verbintenisse met die OBK het. Dit moet onverwyld gedoen word aangesien dit rampspoedig sal wees indien daar te laat agtergekom word die fonds is geplunder,” sê adv. Alberts.

 

Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.