Die VF Plus dring in ‘n skrywe aan die administrateur van die JB Marks-plaaslike munisipaliteit (Potchefstroom en Ventersdorp), mnr. T. Mokgatla, sowel as aan Noordwes se LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake, mnr. B. T. Moiloa, daarop aan dat die aanstelling van mnr. Kelvin Johnson as waarnemende burgemeester, onmiddelik herroep word.
Johnson is die burgemeesterskomiteelid vir finansies in die munisipaliteit. Hy is op 23 Oktober 2020 in die amp “aangestel” deur die omstrede burgemeester, Kgotso Khumalo, wat die volgende dag in hegtenis geneem is op aanklagte van diefstal en bedrog.
Hierdie oorhaastige en onwettige aanstelling is skynbaar gedoen in ‘n desperate poging deur Khumalo om beheer oor die munisipaliteit te behou. Die toepaslike wetgewing vir sulke aanstellings stel dit duidelik dat dit net deur die raad gedoen kan word.
Die VF Plus het daarom ook daarop aangedring dat ‘n dringende raadsvergadering belê word om ‘n burgemeester te verkies.
In hierdie krisistyd in JB Marks is dit noodsaaklik dat die korrekte wetgewing en prosedures in ‘n deursigtige proses gevolg word om die gemeenskap se vertroue in die munisipaliteit te herstel.
Hierdie voorval is tekenend van ANC-ampsdraers se volgehoue pogings om ten alle koste die mag te behou en hulself bo landswette en die belange van die gemeenskap te stel.
Na die jarelange aftakeling van ‘n eens trotse JB Marks-munisipaliteit onder ANC-bewind, verdien die gemeenskappe van Potchefstroom en Ventersdorp die volle bystand en ondersteuning van die owerhede om die ongerymdhede in JB Marks aan die kaak te stel en dienslewering te herstel.
Navrae: 082 415 8628