Op aandrang van die VF Plus het politieke partye vandag hul onderskeie regsmening oor die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) ingedien en voorgelê aan die parlement se portefeuljekomitee oor gesondheid.
In ʼn stemming hieroor het die DA en die EFF die VF Plus se voorbeeld gevolg en die wetsontwerp verwerp. Die IVP en die ANC het dit gesteun.
Hierdie stap het gevolg nadat die VF Plus op 22 Maart vanjaar uit die portefeuljekomitee van gesondheid gestap het nadat politieke partye nie die geleentheid gegun is om hul eie regsmenings oor die NGV te kry nie.
Op 29 Maart 2023 het die komitee ingestem om partye uitstel te gun om regsmenings aan die komitee voor te lê op 5 April 2023. Dié datum is na vandag verskuif.
Die regsmening wat die VF Plus vandag ingedien het, belig verskeie kwelvrae oor die wetsontwerp. Dit sluit in:
1. In die openbare deelnameproses is meer as 338 000 geskrewe reaksies oor die wetsontwerp ontvang. Dit is belangrik. Daarbenewens moet in ag geneem word hoeveel hiervan vir of teen die wetsontwerp is. In hierdie stadium word dit nie aangedui nie.
2. Die VF Plus is van mening dat die wetsontwerp in sy huidige vorm, die teenoorgestelde uitwerking gaan hê as wat die aanvanklike doel is aangesien dit Suid-Afrikaners se grondwetlike reg van toegang tot gesondheidsorg gaan belemmer. Toegang tot gehalte gesondheidsorg gaan eerder beperk en gefrustreer word.
3. Huidige lede van mediese skemas gaan minder toegang tot gesondheidsorg ondervind wat hul grondwetlike regte aantas.
4. In stede daarvan om die wetsontwerp deur te voer, moet die fokus geplaas word op die verbetering van die bestaande openbare gesondheidsorgstelsel.
5. Daar is wesenlik kwelvrae rondom die struktuur en bestuur van die fonds.
6. Talle klousules van die wetsontwerp is vaag en gaan moontlik tot verkeerde vertolking en implementering lei.
7. Daar bestaan ‘n hoë risiko dat die wetsontwerp nie sy doelwitte sal bereik nie en die staat sal dan faal in sy verpligting. Dit kan ook daartoe lei dat die staat homself skuldig maak aan menseregtevergrype deur swak gesondheidsorg.
Dit is die mening van die VF Plus en sy regsverteenwoordigers dat die wetsontwerp nie die toets van grondwetlikheid sal slaag nie en dat belanghebbendes suksesvol met ‘n hofaansoek in die verband sal wees.
Die VF Plus sal en kan nooit die NGV steun of sy goedkeuring daarvoor gee nie.


