Die VF Plus-raadslid in die Randwest-munisipaliteit, Charles Brough, en Amanda de Lange, lid van die Gautengse wetgewer, het vandeesweek saam met lede van nie-winsgewende organisasies en donateurs, ‘n behoeftebepaling onder inwoners van die behoeftige gemeenskap van Venterspost gedoen.
Die VF Plus is bekommerd oor dié vergete dorp aan die Wes-Rand waar feitlik die hele gemeenskap onder geweldige armoede gebuk gaan. Daar is geen werksgeleenthede in die dorp nie en buurdorpe is ver geleë met weinig openbare vervoergeleenthede.
Armoede onder die inwoners van Venterspost, ‘n afgeleë myndorp tussen Randfontein en Westonaria, het waarskynlik verdubbel sedert die uitbreek van die Covid-19-pandemie wat mense totaal afhanklik van skenkings gelaat het.
Verskeie nie-winsgewende organisasies en private donateurs uit omliggende dorpe ondersteun reeds 'n geruime tyd die plaaslike sopkombuis. Volgens die bestuur van die kombuis, voed hulle daagliks sowat 800 mense en versprei 250 kospakkies per week. Die snelgroeiende behoefte aan kos oorskry egter die aantal skenkings. Vele huise kan nie elektrisiteit of gas bekostig nie en is afhanklik van ‘n bord voorbereide kos.
Die armoede in Venterspost is hartverskeurend en dit is veral kleuters wat in die winterkoue net geklee is in ‘n kortbroekie en stukkende T-hempie, wat aan die hart raak.
Baie broodwinners wat voor die inperking daarin kon slaag om ‘n minimumloon huis toe te bring, is nou werkloos. Feitlik elke huisgesin het ‘n uitsettingsbevel van die mynhuis ontvang omdat hulle agterstallig geraak het met huurgeld.
Elektrisiteit is ‘n luuksheid en water word spaarsamig gebruik want dié diens kan ook enige dag gestop word.
Die VF Plus werk nou saam met donateurs om die behoeftebepaling van die gemeenskap te finaliseer en sal deur die organisasies hulp verleen aan die gemeenskap.
Dit is van kritieke belang dat nie-winsgewende organisasies ondersteun word om hulp aan arm gemeenskappe te verleen wat selektief voedselhulp van die regering ontvang.
Navrae:
Amanda de Lange – 071 604 9498
Charles Brough – 082 565 2336