fbpx
Vryheidsfront Plus

VF Plus benadruk vernietigende impak van regstellende aksie, swart ekonomiese bemagtiging en korrupsie onder ANC in Noordwes

(Debat oor Noordwes-provinsiale rede)

Tydens die debat oor die Noordwes-premier, Job Mokgoro, se provinsiale rede het die VF Plus weereens beklemtoon dat die toepassing van onoordeelkundige regstellende aksie (RA), swart ekonomiese bemagtiging (SEB) en die gepaardgaande korrupsie die kernoorsake is vir dié provinsie se verval.

Die omvang van hierdie verval, korrupsie en die ineenstorting van dienste op alle regeringsvlakke is in 2020 met die Covid-19 krisis ten volle bloot gelê.

Die premier het in sy provinsiale rede bloot sy vorige beloftes oor die bestryding van korrupsie en die regstel van wanbestuur in die provinsie herhaal sonder om enige konkrete resultate voor te hou.

Munisipaliteite kry steeds gekwalifiseerde ouditverslae, infrastruktuur gaan daagliks agteruit, kernposte word steeds nie met bekwame mense gevul nie en korrupsie het toegeneem tydens die pandemie.

Die feit dat die provinsiale regering steeds onder die administrasie van die nasionale departement van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) is, ondermyn die oorsigrol van die wetgewer terwyl daar skynbaar algemene verwarring in die regering heers oor die magte en bevoegdhede van die premier en sy provinsiale kabinet.

Die premier het in sy rede geen helderheid hieroor gebring nie en het die kwessie bloot geïgnoreer. Die VF Plus het in besonder aan die premier gevra of die provinsiale rede sy eie is, of dié van die nasionale departement.

Die VF Plus het tydens die debat hulde gebring aan gemeenskapsorganisasies soos AfriForum en Solidariteit Helpende Hand, boereverenigings, sake-ondernemings, kerke en alle individue wat moes inspring en met spesiale inisiatiewe vorendag kom om die nood te verlig tydens die inperking.

Die feit dat regeringsbystand meestal vertraag is weens swak beplanning of onbevoegdheid, het hierdie organisasies onder verdere druk geplaas. Dit is jammer dat die premier nie enige erkenning gegee het aan die reuse-rol wat hierdie organisasies gespeel het om noodverligting in die provinsie te bring nie.

Noordwes se gemeenskappe het spontaan saamgewerk in hierdie tydperk, ten spyte van volgehoue rasverdelende uitsprake deur sommige politici in die provinsie.

Die VF Plus sal voortgaan om korrupsie, wanbestuur en die gevolge van RA en SEB in Noordwes uit te wys en te bestry. Die party gaan daarop aandring dat die pas gestigte bestuurskomitee, wat aangestel is om die nasionale ingryping in die provinsie te evalueer, sy werk bespoedig om stabiliteit te herstel.

Kiesers sal in die komende verkiesings hul oordeel fel oor die verval van die eens vooruitstrewende Noordwes-provinsie wat die ANC op alle regeringsvlakke in die steek gelaat het.

DEEL DIT:

jongste artikels

Mediaverklarings
Armand Cloete

Premier moet ingryp by Matjhabeng-waterkrisis

Die VF Plus eis dat die Vrystaatse premier, Mxolisi Dukwana, moet ingryp by die voortslepende waterkrisis in die Matjhabeng-plaaslike munisipaliteit (Allanridge, Hennenman, Odendaalsrus, Ventersburg, Virginia,

LEES MEER
Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.