Rand Water het verlede week begin om inwoners van Emfuleni te straf vir die munisipaliteit se onvermoë om dié waterverskaffer te betaal. Die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit (Evaton, Sebokeng, Vaal Oewer, Vanderbijlpark, Vereeniging) skuld Rand Water meer as R1,2 miljard.
Die nuwe hoof-administrateur van die munisipaliteit, Gilberto Martians en die Gautengse LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), Lebogang Maile, het as deel van hul omkeerplan vir Emfuleni ‘n nuwe afbetalingsooreenkoms met die nasionale kragverskaffer, Eskom en Rand Water aangegaan.
Die afbetalingsooreenkoms het nie gerealiseer nie en Rand Water het verlede Dinsdag sonder aankondiging besluit om die munisipaliteit se watertoevoer met 40% te verminder.
Hoogliggende gebiede soos Bophelong, Boipatong in Vanderbijlpark se krane het die volgende dag leeggeloop.
Die Metsi A Lekoa-waterdepartement is gister geen keuse gelaat as om ‘n gedwonge beurtwater-stelsel in te stel nie nadat Rand Water die waterdruk vanaf ‘n gemiddelde 180 tot 200 kilopascal (kPa) na 150 kilopascal verlaag het.
Beurtwater na laagliggende kleinhoewe-gebiede word eerste toegepas om watertorings ‘n geleentheid te gee om vol te loop.
Die leë beloftes van die nuwe administrateur en LUR kan nie langer geduld word nie.
Belastingbetalers is keelvol vir ‘n onbevoegde administrasie wat nie eens binne ‘n week ‘n stukkende waterpyp kan herstel nie terwyl duisende liter water verlore gaan.
Die VF Plus sal aanhou druk uitoefen op die munisipaliteit om sy afbetalingsooreenkomste met grootmaat-verskaffers te eerbiedig en waterinfrastruktuur in stand te hou ten einde vermorsing te voorkom.
Getroue belastingbetalers is weer aan die ontvang kant van Emfuleni se onbekwaamheid.
Navrae: 076 616 2124