Die Hooggeregshof in Bloemfontein het ‘n hofbevel in ‘n aansoek deur die VF Plus toegestaan wat die Moqhaka plaaslike munisipaliteit verplig om geld wat ongrondwetlik en onregmatig aan politieke partye gedurende 2009 betaal is, te verhaal.
Die geld wat die politieke partye ontvang het, is belastingbetalersgeld wat die munisipaliteit van Moqhaka tot voordeel van die gemeenskap moet aanwend en daarom het die VF Plus in openbare belang die hof genader om die Munisipale Bestuurder te dwing om die raadsbesluit uit te voer en die uitstaande fondse van die ANC, DA, APC en ACDP te verhaal.
Die Moqhaka plaaslike munisipaliteit het gedurende 2009 fondse aan die verteenwoordigde politieke partye in die stadsraad oorbetaal met die doel om hulle te help met verkiesingsuitgawes.
Die toekennings was gebaseer op die proporsionele verteenwoordiging in die stadsraad en is soos volg oorbetaal:
ANC – R 380 000
DA – R 70 000
APC – R 20 000
VF Plus – R 20 000
ACDP – R 10 000
Die Openbare Beskermer het na aanleiding van ‘n klagte die uitbetalings aan politieke partye ondersoek en ‘n verslag in April 2012 uitgebring wat bepaal dat die betalings as ongrondwetlik, ongemagtig, vrugteloos en verkwistend beskou word. Die Openbare Beskermer het gelas dat die Uitvoerende Burgemeester dringende stappe doen om die geld binne 90 dae terug te vorder van die betrokke politieke partye.
Die Uitvoerende Burgemeester het die verslag van die Openbare Beskermer op die volgende Stadraadsvergadering ter tafel gelê en die Raad het besluit dat die geld voor die einde van Julie 2012 deur die politieke partye terugbetaal moet word.
Op 23 Julie 2012 het die VF Plus die R20 000 wat deur die VF Plus verskuldig was by die munisipaliteit inbetaal. Die ANC, DA, APC en ACDP het tot op hede versuim om hulle terugbetalings te maak.
Die Munisipale Bestuurder van Moqhaka munisipaliteit se versuim om hierdie fondse in te vorder, maak hom skuldig aan finansiële wanbestuur. Die hofbevel wat toegestaan is, beveel nou die Munisipale Bestuurder om die fondse te verhaal. Die VF Plus sal verdere stappe neem indien die Munisipale Bestuurder die hofbevel minag en homself dus aan minagting van die hof skuldig maak.
Kontaknommer: 082 674 6670