“Afrikaners het ‘n grondwetlike reg om hulle kultuur en erfenis te herdenk en uit te leef. Die herdenking van 16 Desember word deur die meeste Afrikaners gesien as Geloftedag binne die konteks van ‘n gelofte wat afgelê is in 1838. Versoeningsdag en die jaarlikse herdenking van die 1838-Gelofte staan nie teenoor mekaar nie. Dit is ’n fout om Afrikaners te probeer forseer om tussen die twee te kies. Meeste mense in Suid-Afrika soek vrede en ’n veilige toekoms vir hulle kinders. Hulle soek ook die reg om hulleself te wees, as byvoorbeeld Afrikaners, in ’n land met baie tale en kulture,” het dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier, in ’n toespraak naby Bothaville in die Vrystaat gesê.
Dr. Groenewald het ook sy kommer uitgespreek oor die wyse waarop die Afrikaner se geskiedenis tans negatief en eensydig aangebied word ter wille van populisme. Hy het spesifiek na die grondkwessie verwys en veldtogte om Afrikaners en witmense as misdadigers in hulle eie land voor te wil stel, asof hulle die grond gesteel het.
“Suid-Afrika behoort aan almal wat daarin woon en Afrikaners het oor eeue ‘n belangrike rol gespeel om dit op te bou tot voordeel van alle Suid-Afrikaners. Afrikaners kan en moet trots wees op hierdie bydrae van opbou en hoef nie verskonend daarvoor te wees nie,” het hy gesê.
“Versoening en nasiebou sal werk wanneer geen groep of individu bedreig, onderdruk of gemarginaliseer in die land voel nie, en wedersydse respek vir mekaar se verskille betoon en erken word.
“As versoening in Suid-Afrika beteken dat die verskillende volke en kultuurgroepe dit wat hulle eie is, moet vernietig en opoffer, is dit nie werklike versoening nie, maar gedwonge assimilasie en kulturele uitwissing,” volgens Groenewald.
Kontaknommers: 083 627 4397 / 083 419 5403 / 082 674 6670