Die VF Plus verwelkom die koalisieregering in die Tshwane-metro se begroting vir die 2024/25-finansiële jaar wat Maandag ter tafel gelê is. Dit moet nog goedgekeur word.
Die operasionele begroting van R48,3 miljard en die R2,3 miljard vir kapitale besteding is gefokus op die metro se finansiële stabiliteit en die lewering van kerndienste aan inwoners.
Die tariefverhogings is in lyn met die inflasiekoers van 5,2% teen April 2024. Dit sluit krag- en watertariewe uit wat deur Nersa en Randwater beïnvloed word.
Tariefverhogings is as volg:
• Eiendomsbelasting: 5% vir alle kategorieë
• Vullisverwydering: 5%
• Kragtariewe: 12%
• Watertariewe: 5,9%
• Sanitasietariewe: 5,9%
Die VF Plus verwelkom veral die volgende toekennings in die begroting:
• R177 miljoen vir die onderhoud van die elektrisiteitsnetwerk, waarvan R20 miljoen is vir die skuif van die Rua Vista- en Doornpoort-toevoerkabels.
• R20 miljoen vir battery-beskerming by substasies.
• R1,2 miljard vir die opgradering van die krag- en waternetwerke (42% van kapitale begroting).
• R25,5 miljoen vir nuwe straatligte en die vervanging van bestaande ligte met sonkragligte.
• R50,8 miljoen vir die herstel van slaggate.
• R3 miljoen vir die uitbreiding van Whatsapp-dienste sodat munisipale rekeninge via Whatsapp hanteer kan word.
• Aankoop van voorafbetaalde meters vir R75 miljoen.
• Kredietbeheer van R91,9 miljoen.
• R20 miljoen vir die vermindering van kragverliese.
Die VF Plus het heelwat insette gelewer rakende die begroting.
Een van die party se voorstelle is dat pensioenarisse ʼn groter afslag op eiendomsbelasting ontvang en dat hulle slegs elke drie jaar aansoek hoef te doen vir die afslag in stede van elke jaar wat administratiewe vertragings tot gevolg het.
Die metroraad sal later die week die begroting formeel oorweeg vir goedkeuring.