Die VF Plus is vol lof vir gemeenskappe wat self onder die vaandel van die Tshwane-metroraad se gemeenskapsopheffingsinisiatief inspring om hul woonbuurte in stand te hou en te verfraai, maar meer leiding van die huidige administrasie se kant af is nodig.
Dié opheffingsmodel het dit ten doel om gemeenskappe te bemagtig deur groepe, individue en sakelui toe te laat om raadseiendom soos straatligte, padtekens en parke te onderhou en veiligheidsmaatreëls soos kringtelevisiestelsels aan te bring.
Dit is in 2023 in die lewe geroep op ‘n tydstip toe die VF Plus deel was van die metro-regering.
In ‘n verslag oor die inisiatief, wat voor die raad gedien het, word aangedui dat 81 goedgekeurde opheffingsprojekte in die tydperk van Desember 2023 tot Desember 2025 nog aktief bedrywig was.
Die statusverslag het egter nie die totale aantal aansoeke wat ingedien is aangedui nie, terwyl die volhoubaarheid van die operasionele planne ook nog nie geëvalueer is nie.
Daar is ook geen aanduiding nie van hoe die metro van plan is om die projekte te versterk deur byvoorbeeld moontlike finansiële steun, bekendstelling aan beleggers, of opleiding en vaardigheidsontwikkeling vir projekkomitees en gemeenskapsvrywilligerspanne nie.
Die model is ‘n unieke gemeenskapsvennootskapsprogram waarvan die volle waarde net ontsluit kan word indien die metro sy volle gewig agter die projekte ingooi.
Kiesers kan op 4 November 2026 vir die VF Plus stem vir voortgesette, impakgedrewe inisiatiewe vir gemeenskapsopheffing met die doel om selfonderhoudende, veiliger, skoner en lewenskragtige gemeenskappe te skep.


