fbpx
Vryheidsfront Plus

Tshwane-hofuitspraak: Demokrasie in ere herstel en provinsiale ANC-regering kry bloedneus

Die VF Plus is verheug oor die sinvolle uitspraak van die Gautengse hooggeregshof dat die vorige uitspraak dat die Tshwane-metroraad onwettig onder administrasie geplaas is, onmiddellik van krag is ten spyte van 'n hangende appèl in die saak.

Hiermee is demokrasie in ere herstel en is die ANC-provinsiale regering 'n loesing in die hof toegedien wat hy verdien weens sy siniese misbruik van statutêre magte om die demokraties-verkose koalisieregering van die stad te ondermyn.

Hierdie is die tweede pak slae wat die ANC op die lyf loop in die Tshwane-administrasie-saga. Die VF Plus het die ANC herhaaldelik gewaarsku dat sy regsgronde vir die administrasieproses wankelrig is en dat sy politiek-opportunistiese onderrok ver uithang met gevolge wat vir hulle nie wenslik gaan uitwerk nie.

Dit het nou gebeur.

Die ANC tree, wat die Tshwane-administrasie-saga betref, uiters mala fide op, veral die LUR van samewerkende regering en tradisionele sake, Lebogang Maile.

Daarom het die VF Plus die koalisie-litigante in die hoofsaak wat later in appèl voor die grondwetlike hof gaan dien, versoek om bestrawwende kostebevele teen Maile en die ander betrokke lede van die uitvoerende gesag aan te vra, waartoe ingestem is.

Weens die politieke gekonkel van die ANC-provinsiale regering is die inwoners van Pretoria en omstreke wesenlik benadeel en verdien hul leiers om persoonlik in te staan vir die regskostes aangegaan om demokrasie in ere te herstel.

Die VF Plus glo dat persoonlike aanspreeklikheid in die toekoms die blinde sambok gaan wees wat onwettige optrede effektief die hok gaan slaan.

Die koalisieregering kan nou weer sy pos inneem en voortgaan met die harde werk om die metro finansieel gesond te kry en namens al die inwoners op 'n billike wyse te regeer.

Die VF Plus, as 'n trotse koalisievennoot, se verkose lede sal nou weer die taak opneem om soos voorheen in alle erns dienslewering te verbeter.

Dit is verblydend dat raadsvergaderings ook nie meer deur die ANC en EFF ondermyn kan word nie aangesien die hof beveel het dat die twee partye se raadslede getrou die verrigtinge moet bywoon.

Die VF Plus sal nie huiwer om klagtes vir minagting van die hof in te dien teen enige ANC- en EFF-raadslede wat in die toekoms op 'n mala fide wyse wegbly van raadsvergaderings nie. Die VF Plus sal nie duld dat die koalisieregering verder geboelie word nie.

Navrae: 082 391 3117

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.