Taal is van onskatbare belang om mense in Suid-Afrika te help om ‘n wedersydse begrip en respek vir mekaar te ontwikkel en om nasiebou te bevorder, sê dr. Corné Mulder, die Vryheidsfront Plus se hoofsweep.
Dr. Mulder het vandag met die tweede lesingsdebat van die Wetsontwerp op die Raad vir Suid-Afrikaanse Taalpraktisyns gesê die VF Plus sal daarom enige stap steun om veeltaligheid in die land te bevorder.
Hy het gesê dit sal die ideale situasie wees as jong mense mekaar se taal kan praat aangesien dit mense letterlik en figuurlik sal help om mekaar beter te verstaan.
“Hierdie mag dalk na ‘n baie gewone wet lyk, maar dit is nie. Hierdie wet is deel van ‘n sekere proses van taal in Suid-Afrika wat baie belangrik is,” het dr. Mulder gesê.
Op ‘n ligter noot het dr. Mulder aan mede-parlementslede gesê hy is nie bekommerd oor die oorlewing van Afrikaans nie. “Afrikaans het die aanslag van die Britse Ryk oorleef. Die ANC sal nie ‘n probleem wees nie…’
“Die meerderheid Afrikaanssprekendes in die land is nie wit nie. Miljoene mense praat Afrikaans. Dis ‘n doodgewone, amptelike Suid-Afrikaanse taal.
“Suid-Afrika is ‘n uiteenlopende gemeenskap, waarvan taal ‘n deel uitmaak. Maar taal kan ‘n fokuspunt wees op die gebied van sosiale kohesie en nasiebou.
“Wanneer ons met hierdie bouproses begin, soos met hierdie wet, sal ons besef dat ons die wet nie in isolasie kan sien nie. Taal is ‘n belangrike proses in nasiebou. Wanneer ons almal gemaklik ons eie taal met mekaar kan praat, dan sal ons ware vooruitgang maak na sosiale kohesie en nasiebou.
“Dit is waarna ons moet streef en waarheen ons moet mik. En indien ons daarmee erns het, is ‘n wet soos hierdie belangrik om amptelike taalpraktisyns deel te maak van die samebindende weg na veeltaligheid wat allerbelangrik vir die land is,” het dr. Mulder gesê.
Dr. Corné Mulder
Kontaknommers: 083 626 1497 / 083 419 5403