Die VF Plus is teleurgesteld oor die Brackenfell-verkeersdepartement se swak dienslewering en die wyse waarop die gemeenskap behandel word.
Die VF Plus het die kantore van die verkeersafdeling verlede week self besoek, en is om 14:45 reeds weggewys aangesien die personeel die kantore wou sluit. Op navraag is gesê die personeel gaan reeds om 15:30 huis toe.
Verskeie ander mense wat toe reeds ‘n geruime tyd in die ry gewag het om gehelp te word, is ook weggewys.
Volgens die verkeersdepartement se webtuiste sluit die kantore eers 15:30 en die publiek moet tot dan gehelp word.
Die kantoorbestuurder, mev. Gaynor Muller, het geweier om na die publiek se klagtes te luister. Die stasiehoof, ene mnr. Van Wyk, het gesê hy het opdrag ontvang van sy hoofbestuurder, mnr. Henry Malgas, om die ry mense om 14:00 af te keer.
Dit is totaal onaanvaarbaar dat munisipale amptenare gemeenskapslede wegwys en weier om hulle te bedien tydens normale werksure. Van die mense moet ‘n hele dag van die werk wegbly om in die ry te wag net om weggewys te word.
Dit het ook onder VF Plus se aandag gekom dat belangrike toerusting soos die oog- en vingerafdrukmasjien nie meer korrek funksioneer nie en dat die stelsel gereeld van lyn is.
Die VF Plus het navraag hieroor gedoen by die Stad Kaapstad en sal die saak verder voer om toe te sien dat die mense van Brackenfell die diens kry wat hulle toekom.
Onbevoegdheid en swak diens het die norm geraak in Suid-Afrika. In die komende munisipale verkiesing kan u saam met die VF Plus opstaan, saamstaan en ‘n sterk boodskap stuur dat dit nie langer geduld sal word nie.