Suid-Afrika het een van die mees omvattende maatskaplike ontwikkelingsprogramme ter wêreld wat rampspoedige gevolge vir die land kan inhou. Dit is ironies genoeg tekenend van die ANC-regering se onvermoë om die ekonomie te laat groei en werk te skep, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor maatskaplike ontwikkeling.
Hy sê alhoewel enige poging om ‘n land se inwoners op te hef prysenswaardig is, is die massiewe omvang van die program onvolhoubaar en onbekostigbaar. Die departement van finansies se projeksies dui daarop dat 18,5 miljoen mense teen 2028 afhanklik sal wees van ‘n staatstoelae.
“Indien die land se ekonomiese groei klein gaan bly, danksy die ANC en pres. Jacob Zuma, sal die regering binnekort net die salarisse van staatsamptenare en maatskaplike toelaes kan bekostig.
“Sekere ekonome se projeksies toon dat hierdie fiskale afgrond rondom 2026 sal plaasvind. Dit was egter voor Nene-gate en daar word nou opnuut voorspel dat die regering daardie perk baie vroeër gaan bereik. ‘n Krediet-afgradering na rommelstatus lyk ook onafwendbaar. Die Reserwebank dui aan die moontlikheid daarvoor is medium tot hoog.
“Indien enige hiervan gebeur, sal die regering moeilike besluite moet neem. Bring ‘n mens al die regering se programme tot ‘n stilstand bloot om salarisse te betaal en mense geketting te hou aan toelaes, of verklein jy die regering drasties en skep ‘n klimaat bevorderlik vir entrepreneurskap?
“Die harde werklikheid is dat die ANC-regering drastiese verandering teweeg sal moet bring om ‘n vryer ekonomie te skep wat werk sal skep en mense minder afhanklik sal maak van ‘n maatskaplike toelaag.
“Hierin speel die maatskaplike welsynstelsel self ‘n belangrike rol. Diegene wat afhanklik is van die stelsel moet ook self geleer word hoe om verantwoordelikheid te neem vir hul en hul kinders se toekoms.
“Dit beteken, anders as wat tans die geval is, dat kindertoelaes gekoppel moet word aan bewyse dat kinders wel skool bywoon. Waar daar tekens is dat ‘n persoon kinders het bloot ten einde toegang tot die toelaes te kry, moet ingegryp word deur maatskaplike werkers.
“Ouers moet ook bewys dat hulle of besig is om werk te soek, of besig is om hulself beter te bekwaam. Die regering behoort meer te doen om programme te skep waar werkloses gratis opgelei kan word in ambagte waar ‘n tekort bestaan. Op hierdie wyse speel beide die gewer en ontvanger ‘n positiewe rol om die probleem van afhanklikheid aan te spreek.
“Daadwerklike aandag moet ook geskenk word aan die land se bevolkingsgroei. Die bevolking is reeds te groot vir die land se ekonomie, en dan word die probleem vererger deur ‘n instroming van verbode immigrante.
“Dié departement sal nou moet saamwerk met die departemente van finansies, handel en nywerheid en ekonomiese ontwikkeling om op ‘n holistiese wyse die probleem te benader en oplossings te vind,” sê adv. Alberts.
Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403