fbpx
Vryheidsfront Plus

Staatspensioenfonds (GEPF): VF Plus waarsku trustees oor persoonlike aanspreeklikheid indien fondse aan regering gegee word

Die VF Plus rig ‘n waarskuwing aan die trustees van die staatsdienspensioenfonds (GEPF) dat hulle weens roekelose optrede persoonlik aanspreeklik gehou kan word indien die GEPF op enige wyse fondse beskikbaar stel aan die regering vir enige rede, insluitende die skep van ‘n ekonomiese hulppakket vir die post-COVID-19 tydperk.

Daar is geen twyfel nie dat Suid-Afrika ‘n enorme ekonomiese stimulus nodig het, maar daardie fondse kan by banke en internasionale noodlenigingsorganisasies verkry word.

Die trustees sal nie kan staatmaak op enige waarborge van die regering nie, juis vanweë die regering se eie benarde finansiële posisie. Dit sou dus uiters roekeloos van die GEPF-trustees wees om toe te laat dat enige beleggings gemaak word of lenings gegee word wat nie ‘n optimale opbrengs vir die GEPF-lede sal oplewer nie.

Verder is die GEPF ook in ‘n swakker posisie weens die daling van markte wêreldwyd en sal enige beleggings of lenings vanuit dié verswakte status, riskant en roekeloos wees.

Die VF Plus rig ook ‘n waarskuwing aan die regering om daarop te let dat die fondse in die GEPF daar is vir lede se aftrede en nie ‘n spaarfonds is waaruit fondse goedsmoeds onttrek kan word nie.

Daar is wetgewing en reëls wat die fondse oormerk vir die aftrede en versorging van hul lede en enige onbehoorlike versoek of druk op die GEPF van die regering sal daartoe lei dat lede sal moet optree om hul belange te beskerm, insluitende die neem van regstappe.

Die VF Plus herinner die regering aan die enorme dilemma wat vir die regering geskep is weens die wanbestuur van die Transnet-pensioenarisse se pensioenfondse wat gelei het tot ‘n rekordeis van R79 miljard. Indien die regering gaan karring aan die GEPF, sal die eise wat daaruit voortspruit die Transnet-pensioensaak klein laat lyk.

Kontaknommer: 082 391 3117

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.