Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Staatsdienskommissie moet senior staatsamptenare se ‘donasies’ aan ANC ondersoek

Berigte dat die ANC senior staatsamptenare soos direkteurs-generaal versoek om geld aan die party te skenk, is uiters kommerwekkend en die VF Plus gaan die staatsdienskommissie versoek om ondersoek daarna in te stel, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor staatsdiens en administrasie.

Adv. Alberts sê dit skep ‘n onhoudbare situasie aangesien amptenare deur die bank sal voel daar word ‘n mes teen hul keel gehou om geld te skenk of in onguns te verval by die ANC-regering.

In ‘n brief, wat glo in die Sunday Times en Beeld se besit is, word direkteurs-generaal, wat die administratiewe hoofde van staatsdepartemente is, gevra om sowat R3 700 per maand aan die ANC te skenk. Die ANC se sekretaris-generaal, Gwede Mantashe, het dit luidens die berigte erken en sê glo hy vind nie fout daarmee nie.

Volgens adv. Alberts spreek dit vanself dat die amptenare bang sal wees om die nie geld te skenk nie aangesien die wat nie bydra nie, se werk in die gedrang kan kom.

“Dit wys ook op die arrogansie en feitlike erkenning van die regering betreffende kaderontplooiing in die staatsdiens om aan te neem dat soveel senior staatsamptenare ANC-lede is.

“Die VF Plus sal ‘n klag by die staatsdienskommissie indien in terme van die etiese kode van die staatsdiens wat vereis dat amptenare onafhanklik en onbevange moet kan optree. Die boodskap wat hiermee uitgestuur word, is dat hulle die ANC gedienstig moet wees.

“Hierdie optrede vervaag die grens tussen die staatsdiens en die ANC en kan nie geduld word nie aangesien die staatsdiens reeds groot probleme ondervind wat dienslewering aanbetref.

“Dit is niks anders nie as subtiele afpersing en ons sal die kommissie vra om so gou doenlik hieroor ‘n bevinding te maak,” sê adv. Alberts.

 

Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.