fbpx
Vryheidsfront Plus

n Staat sonder krag, is staat sonder mag

In ‘n debat wat deur die EFF aangevra is oor die sogenaamde billike energie-oorgang, het die VF Plus gewys op die politieke gevolge van die ineenstorting van die staat se vermoë om elektrisiteit op te wek.

Dit skep die geleentheid vir gemeenskappe om hulle van die sentralistiese staat te bevry.

Fossielbrandstowwe het dit wel vir Suid-Afrika moontlik gemaak om tot ‘n geïndustrialiseerde staat te ontwikkel. Verder is die verskeidenheid van aanwendings van steenkool, die enigste fossielbrandstof wat in die land volop is, een van die groot prestasies in die land se geskiedenis.

Tog het dit aan die begin van die twintigste eeu duidelik geword dat toenemende koolstofvlakke in die atmosfeer met klimaatsverandering in verband gebring kan word.

Fossielbrandstowwe, veral steenkool, het daarom in onguns geraak.

In ‘n onverwante verwikkeling het die Suid-Afrikaanse regering ongeveer dieselfde tyd besluit om nie in nuwe geriewe vir kragopwekking te belê nie. Kort daarna is die afgeremde geriewe gekaap en onderhoud het bykans tot stilstand gekom

‘n Dekadelange ekonomiese ramp kan opgesom word deur te sê dat, net toe die wêreld eis dat Suid-Afrika van steenkool afstap, het ANC-wanregering veroorsaak dat die land die vermoë om dit te gebruik, verloor het.

Gelukkig het dit met nog ‘n belangrike wending saamgeval: Die groter bekostigbaarheid van maniere om hernubare energiebronne te ontgin. Die land se ligging, met volop sonskyn, wind en ‘n wye oos-wes verspreiding, gekombineer met ‘n sterk kragnetwerk, is ideaal vir benutting van dié bronne.

Die toekomstige energiemengsel sal vir die afsienbare tyd steeds steenkool insluit, maar afnemend.

Verder kan klein modulêre kernkrageenhede tot die basislading bydra. Die werklike toekomstige mengsel sal nie deur die staat se planne afhang nie, maar van dit wat vinnig genoeg, bekostigbaar genoeg en betroubaar genoeg in werking gestel kan word.

Anders as ‘n eeu gelede, sal die staat dus nie die sentrale rol in nuwe kragvoorsiening speel nie. Die private sektor is vandag lewenskragtig en kundig, met toegang tot finansiering. Huishoudings, ondernemings en selfs gemeenskappe sal toenemend hulle eie planne maak, met behulp van die kapitaalmark.

Die ekonomie is immers nie werklik die som van geld in ‘n staat nie, maar die som van energie wat uitgeoefen word. As die geldvoorraad vergroot, is dit inflasie. As meer energie verbruik word, is dit groei.

Hierdie verwikkeling beperk die ANC se vermoë om ‘n gesentraliseerde staat in stand te hou. Die mag sal toenemend berus by gemeenskappe wat in energieterme vir hulleself sorg.

Laat elkeen wat elektrisiteit vir eie gebruik opwek, besef: Krag is die bron van mag.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.