Dit is duidelik dat die ANC-regering met die Onteieningswet die weg voorberei vir ‘n volgende wet wat grondgryp in Suid-Afrika sal wettig, en alle grondeienaars moet daarvan kennis neem, sê dr. Pieter Groenewald, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor grondsake.
Dr. Groenewald het vandag met die tweede lesingsdebat van die beoogde wet in die parlement gesê die VF Plus verwerp die wetsontwerp, en selfs die wenslikheid daarvan om dit te debatteer.
“Dit is slegte nuus vir alle grondeienaars in Suid-Afrika. Ons het so ‘n wet gehad, en dit is algemeen in die wêreld dat daar iets soos ‘n onteieningswet is. Hierdie wet herroep nou die vorige wet.
“Onteieningswette oor die wêreld stel dit duidelik dat die doel daarvan in die belang van openbare gebruik is, soos die bou van ‘n brug of ‘n pad. In hierdie geval bepaal die wet egter dat die onteiening ook in openbare belang kan wees.
“Dit is wel binne die perke van artikel 25 van die Grondwet wat sê dit kan spesifiek ook aangewend word vir grondhervorming in Suid-Afrika, maar ek wil hê elke grondeienaar moet vandag weet hierdie is die voorlaaste wet voor die wet wat grondgryp in Suid-Afrika sal wettig.
“In Zimbabwe het hulle dit onwettig gedoen. In Suid-Afrika, onder die ANC-regering, wil hulle grondgryp wettig doen.
“Die staatspresident het in sy staatsrede gesê hulle is besig met die voorbereiding van ‘n wetsontwerp met die naam; die ‘Regulering van Grondbesit’. Die kern daarvan sal ‘n beperking wees op die hoeveelheid grond wat ‘n persoon sal kan besit, naamlik 5 000ha, en in uitsonderlike gevalle, 12 000ha.
“Dan sê dit uitdruklik, as jy meer grond het as dit, sal dit onteien word. Hierdie is dus duidelik die voorlaaste wet om die weg voor te berei so;8dat die een wat volgende kom, grondgryp sal wettig.
“Die definisie van grond soos vervat in artikel 25 van die Grondwet is wyd. Ek hoop dat instellings soos die F.W. de Klerk-Stigting na die Grondwethof sal gaan om die definisie te toets,” sê dr. Groenewald.
Dr. Groenewald het ook die EFF tereggewys oor hul deurlopende uitsprake dat wittes grond van swartes gesteel het, en het gesê almal weet dit is onwaar.
Navrae: 083-419-5403 / 083-627-4397